Sitrus se vooruitskatting lyk gunstig

Die Sitrusgroeiersvereniging van Suider-Afrika (SGV) het onlangs hulle oesvoorspellings vir die 2022 seisoen bekend gemaak.

Met die 2022 Suid-Afrikaanse sitrusuitvoerseisoen wat in volle swang is, het ‘n aantal sitrusproduksiestreke regoor die land hul voorspelde uitvoervolumes vir die komende seisoen verskaf. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die SGV sê dat hierdie skattings toon dat die bedryf steeds bestendige groei oor die meeste sitrusvariëteite sal sien, met ‘n geskatte 4% groei in uitvoer oor al hierdie kategorieë.
Luidens Chadwick is dit goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in die lig daarvan dat die plaaslike bedryf 120 000 werksgeleenthede behou het en verlede jaar alleen R30 miljard se uitvoerinkomste ingebring het.

Verskeie uitdagings staar egter die sektor in die gesig, wat insluit: stygende insetkoste, insluitend brandstof- en kunsmisprysverhogings en ‘n groot verhoging in vragtariewe; rompslomp wat toegang tot sommige oorsese markte belemmer, sowel as voortdurende bedryfsuitdagings bydie land se hawens, bedreig steeds die winsgewendheid en toekomstige volhoubaarheid van produsente.
Streke het skattings vir die volgende variëteite vir die komende seisoen aan die SGV verskaf.

Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Sitrusgroeiersvereniging van Suider-Afrika.

Suurlemoene

Die huidige voorspelling is dat 32,3 miljoen (15 kg) kartonne na sleutelmarkte uitgevoer sal word, wat ‘n toename van 1,3 miljoen kartonne is, in vergelyking met 2021. Jong bome wat vrugte begin dra in sommige streke, insluitend die Wes-Kaap en Limpopo, sal tot hierdie groei bydra.
‘n Koeler somer kan egter kleiner vrugte in sommige streke tot gevolg hê, wat ‘n impak op die finale aantal kartonne wat gepak en verskeep word, kan hê.

Lees ook: Mark na die Ooste oop vir suurlemoene

Nawels

Huidige voorspellings toon ‘n toename van 1,5 miljoen (15 kg) kartonne nawels wat gedurende die komende seisoen verskeep sal word, met 28,7 miljoen kartonne wat na verwagting in totaal uitgevoer sal word. Terwyl haelstorms in sommige gebiede soos die Oos-Kaapse Middellande tot ‘n afname in voorspelde skattings gelei het, beteken goeie reën in ander gebiede soos die Sondagsriviervallei dat hierdie streek ‘n groei van 9% in nawel uitvoervolumes behoort te geniet.

Valencias

‘n Geskatte 58,2 miljoen (15 kg) kartonne valencias sal na verwagting in 2022 uitgevoer word, wat ‘n toename van 3,2 miljoen sal wees vanaf die 55 miljoen kartonne wat verlede seisoen verskeep is. Die finale getal wat verskeep word, kan egter na gelang van marktoestande teen die einde van die seisoen afneem, veral die vernouing van markvensters wat dit moeilik kan maak om oorblywende volumes te verskeep.

Pomelo’s

‘n Geskatte 14,8 miljoen (17 kg) kartonne pomelo’s sal na verwagting gedurende die komende seisoen uitgevoer word. ‘n Aantal ander magte kan egter hierdie totaal negatief beïnvloed, insluitend die Russiese konflik in die Oekraïne, aangesien Rusland ‘n groot invoerder van Suid-Afrikaanse pomelo’s is. Verder, sou brandstof- en verskepingskoste aanhou styg, sal PP-vrugte wat vir verwerking en Klas 2-pomelo’s gestuur word, nie uitgevoer word nie, wat ook die finale uitvoertotaal sal verminder.

Volgens Chadwick is dit duidelik, dat vir die bedryf om voort te gaan met die opwaartse trajek wat dit oor die afgelope jare geniet het, die regering en belanghebbendes regoor die waardeketting sal moet saamwerk om die bedryfskapasiteit en doeltreffendheid by die land se hawens te verbeter en om soveel marktoegangsgeleenthede as moontlik te verseker, onderhou en behou.
“Sleutelmarkte wat groot potensiaal vir uitgebreide toegang bied, en veral aandag gedurende die komende seisoen benodig, is die Verenigde State en Indië.

“Dit is die enigste manier waarop die produsente in staat sal wees om toenemende insetkoste wat hul winsmarges knou, te verreken, en vir die bedryf om mededingend te bly, veral in ag genome plaaslike produksie wat na verwagting oor die volgende twee jaar met nog 300 000 ton sal groei,” sê Chadwick.

Exit mobile version