Local newsNews

Boere in Politsi takel kragkrisis

Tien boerderye, twee bosbougroepe en die Groter Tzaneense Munisipaliteit (GTM) het saamgesnoer om die elektrisiteitsprobleme in die Politsi-omgewing uit te sorteer.

Niel Scholtz en Deon Jacobs van ZZ2 se elektriese afdeling het in ‘n onderhoud met die Herald verduidelik dat dié projek reeds in Oktober 2021 begin is. “Die rol wat ons vertolk is om namens die gemeenskap leiding te neem, die proses te fasiliteer om die instandhouding van die kragnetwerk te bewerkstellig,” vertel Scholtz.

“Ons werk saam met GTM en skakel met hulle om uit te vind op watter dae en tye ons ‘n gedeelte van ‘n subseksie van Tzaneen se kragvoorsiening af kan sit vir instandhouding,” voeg hy by. Scholtz lig ook uit dat om só ‘n projek te laat werk, dit belangrik is om inkoop van die gemeenskap te hê, te besef dat samewerking ‘n ooreenstemming van belange is en dat daar geen vergoeding is nie.

Die hoofdoel van die projek is om te verseker dat kortsluitings voorkom word deur bome wat te naby aan die kraglyne is te sny en plantegroei te beheer.

Dit word gedoen deur die GTM se riglyn van geen bome nege meter weerskante van die kraglyn toe te pas. Rolspelers in die Politsivallei het mense, tyd, toerusing en voertuie beskikbaar gemaak vir die projek, hulle sluit in: ZZ2, Amorentia Landgoed, Altona-plase, Gubitz-boerdery, Spies-boerdery, Westfalia, Diggers Rest, Muller Familie Boerdery Trust, Basson-boerdery, Merensky Timbers en Safcol (Suid-Afrikaanse Bosbou Maatskappy Beperk).

Also read: Dam se sluise is oop

Die groep ontmoet weekliks met tegnici van GTM om te beplan en vordering te bespreek. “Tot op hede het ons al meer as 28km se kraglyne wat oorgroei was klaar skoongemaak, daar is nog ongeveer 15km uitstaande. Die eerste drie fases van die projek is afgehandel en ons is tans besig met fase 4 op Triangle-plaas,” vertel Jacobs.

Jacobs sê ten spyte van groot reënneerslae van meer as 300mm tydens die tropiese storm Ex-Ana einde Januarie, het Politsi se krag vir die grootste deel aangebly. Alwin Fleischmann was deur ZZ2 die taak gegee om rekening te hou van hoeveel produksie-ure verloor word as gevolg van onderbrekings.

Daarna het Scholtz en Jacobs het saam met Westfalia ‘n opname gemaak van foute op die kraglyne wat hulle op ‘n selfoontoepassing vasgelê het. Ongeveer 1100 ure se produktiwiteit is in die jaar verloor as gevolg van kragonderbrekings en die eerste opnames het 167 foute en kwelpunte uitgelig op die kragtoevoerlyne.

“Ons het daarna met GTM en met die ander boere en rolspelers in die omgewing ontmoet en ‘n plan gemaak om saam te werk en die probleme uit te sorteer ten bate van die gemeenskap,” vertel Scholtz. Die afgelope vyf maande is die hulpbronne van elke boer en bosbouer aangewend vir die projek, hetsy arbeid, voertuie of toerusting.

Tegnici van GTM is in beheer geplaas van die reëlings rakende wanneer en waar lyne afgeskakel moes word om veilige ontbossing rondom die kraglyne te doen. “Volgens die inwoners van Politsi is daar reeds ‘n defnitiewe, positiewe verandering in die elektrisiteitstoevoer sedert die projek aangepak is,” vertel Jacobs tydens die groep se vergadering op 22 Februarie.

“Daar is nog ‘n paar kwelpunte, maar in die geheel is dit ‘n groot wen, regdeur die Politsivallei,” voeg hy by. Calvin Ramadzuwa, ‘n tegnikus van GTM het tydens die vergadering bevestig dat elektrisiëns en spanne van die GTM ook vinniger toegang tot- en makliker foute opdie lyne vind sedert die samewerkingsprojek aangepak is. Belangstellende boere kan Andrew Laubscher op 083 300 0210 kontak.

Related Articles

Back to top button