Tzaneense ikoon vier vyftig jaar in praktyk

Dr. Sarel Spies, welbekende plaaslike geneesheer, vier sy vyftigste jaar in praktyk in die Tzaneen- en Duiwelskloof-omgewing!

“Dit is geseënde tye, bevoorregte tye en genadige tye,” vertel dr. Spies, wat in 50 jaar net tien dae siekverlof nodig gehad het. “Dit is ‘n groot genade om steeds in staat te wees en gespaar te wees met gesondheid en verstand. Ek is onbeskryflik dankbaar,” voeg hy nederig by. Hy het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en sy studiebeurs op Oshakati in die ou Suidwes-Afrika teruggewerk.

Daarna het hy in 1972 na Duiwelskloof verhuis waar hy by die ou hospitaal as algemene praktisyn gewerk het. “Dit was ander tye, ons het net drie spesialiste in Pietersburg gehad, so die algemene praktisyn het nog alles gedoen, van sportbeserings en steke insit tot massiewe noodgevalle en pasiënte met messteke in die hart,” herroep hy. Op ‘n punt van orde verskuif hy die kollig na Marieta, sy vrou.

Van links is Colleen Botha, Marinda de Beer, dr. Shani van den Heever, dr. Sarel Spies, René Venter, Karen Pohl en Nina Jansen.

“Ek sou dit vir seker nie kon doen sonder haar ondersteuning nie, verál in die beginjare. “Ons het ongelooflik hard gewerk, ek was van die oggend 07:00 by die hospitaal tot die volgende aand 19:00. En dit dan weer die volgende dag gedoen. Sy het as doktersvrou die situasie begryp en verwerk en dít het my gedra,” beklemtoon hy. Hy beskryf homself as ‘n gebore optimis en sukkel om enige laagtepunte in die 50 jaar tydperk uit te lig. Sy vennote, personeel en kollegas oor al die jare is vir hom ‘n hoogtepunt. “Julle is die bestes wat ‘n dokter voor kan vra,” sê hy.

Die skuif na die nuwe gebou in Douglasstraat saam met Mediclinic is nog ‘n hoogtepunt. “Ek is ook dankbaar vir my lojale pasiënte se ondersteuning. Dit was nie moeilik om met hulle te werk nie,” vertel hy. “Solank ek nie vergeet wat ek gister gesê het nie, sal ek aanhou praktiseer. “As daar laagtepunte was, het dit gou verbygegaan. Al het ek vir baie jare hard gewerk, was ek nog nooit spyt nie.

Also read: Aesthetics doctor now available for people of Limpopo

Die beginjare by Duiwelskoof Hospitaal was my vormingsjare en ondervindingsjare. Dit was ook ‘n ligpunt om insidente, en daar was al baie, met kollegas te deel.” Toe Duiwelskloof Hospitaal se deure toemaak was dit vir hom die einde van ‘n era. “Dit was ‘n tragiese oomblik en ‘n groot verlies, maar toe Mediclinic Tzaneen geopen is, was dit weer ‘n groot aanwins vir die omgewing en ons dokters,” vertel hy met ‘n glimlag.

Sy kollegas by Spies en Vennote het ooglopende respek en waardering vir sy menslikheid. Marinda de Beer, wat al 22 jaar saam met hom werk, beskryf hom as ‘n ongelooflike mens. Dr. Johan Botha, wat sedert 1986 saam met dr. Spies werk, vertel hy is ‘n dinamiese, slim ou met ‘n wye kennis. “Dit is altyd pret om saam met hom te werk,” sê hy.

Vir dr. Juannie de Villiers is dit sy integriteit en toewyding tot die amp wat uitstaan. “Sy pasiënte se welstand kom altyd eerste,” vertel hy. Dr. Shani van den Heever vertel hoe hy haar as mentor inspireer. “Ek is bevoorreg om sedert 2003 dr. Spies as mentor te hê op ‘n persoonlike en ‘n professionele vlak.

Hy lewer elke dag ‘n groot bydrae by die praktyk. Die aanhaling: ‘To cure sometimes, to relieve often and to comfort always,’ beskryf hom perfek,” vertel sy. “Hy het werklik ‘n groot aanhang onder pasiënte en is een van daardie dokters wat al diep spore getrap het, wat al vele babas in die lewe gehelp bring het en dan hulle kinders weer in die lewe gehelp bring het,” voeg sy by.

Dr. Spies geniet dit om in sy vrye tyd te lees en het ook ‘n groot passie vir inheemse plantegroei. Voor die covid-pandemie het hy gereeld orgideë en inheemse orgideë saam met die Wolkberg Orgideëvereniging op skougeleenthede ten toon gestel. Hy is ook ‘n internasionaal erkende orgideë-beoordelaar.

Hy bemoei homself nie met die politiek nie, maar wat die covid-19-pandemie en entstof-weiering aanbetref, sê hy eenvoudig dit: “Die mense wat nie ingeënt wil word nie, doen hulle naaste geen guns nie,” sluit hy af.

Exit mobile version