Oulike Kersgeskenke vir viervoetiges

Jou viervoetige beste vriende kan die opgewondenheid van die Kersseisoen aanvoel. Laat hulle ook die feestyd met 'n geskenk binnegaan.

Troeteldiere is vir baie mense soos ’n kind in die huis en daarom moet hulle beslis mos ook Kersgeskenke kry, dan nie?

Hier is ’n paar kreatiewe tuisgemaakte geskenkidees. Maak net altyd seker dat die troeteldier nie van die plastiekstukke kan insluk of daardeur gesny word nie.  

Katte hou van uitdagings en sal hierdie tuisgemaakte geskenk geniet. Neem ’n leë skoenboks en plak leë toiletrolle, met openinge na bo, binne-in die skoenboks. Eierboksies kan ook ingespan word. Gooi nou ’n paar droeë katkoekies in die holtes. Dit sal Kietsie vir ure besig hou om die lekkernye uit die holtes te probeer vis. Kattekruid is nog ’n lekkerny wat hulle baie besig hou. 

Katte is jagters. Gebruik enige plastiek- of houtstokkie of selfs ’n gebreekte visstok en maak ’n stuk vislyn daaraan vas. Knoop nou die kamma-prooi aan die onderpunt vas. Enigiets kan werk as prooi, van stukkies materiaal, pom-poms, sponsies tot ’n bolletjie oorskietwol.

 Honde geniet raserige speelgoed soos plastiekbottels. Neem ’n leë plastiekbottel (die grootte van die hond sal bepaal hoe groot die bottel moet wees) en gooi ’n paar droeë bone of macaroni in. Draai dit nou toe in ’n stuk oorskietlap, ’n ou T-hemp of selfs een pyp van ’n ou langbroek. 

Groter honde wat graag buite speel sal hou van ’n bewegende speelding. Gooi ’n paar hondeblokkies in ’n leë plastiekbottel en sny ’n paar gate in sodat die blokkies wel kan uitval. Hang die bottel met ’n stewige tou buite aan ’n boomtak of iets stewigs op. 

Herwin uitgerekte sportkouse deur dit in te span vir ’n toutrekspeletjie. Werk drie lang kouse stewig op een punt vas en vleg dit saam om ’n tou te vorm. Knoop die onderste punt of werk dit ook stewig vas. 

Snoepgoed-speelgoed is ook gewild. Honde wat graag aan gedroogde beeshoewe kou kan nog langer besig gehou word deur grondboontjiebotter diep binne-in te druk. 

Neem leë jogurthouers en plaas ’n paar lekkernye daarin. Maak die houer vol water of flou bees/hoenderaftreksel en laat vries dit oornag. Sit dit buite op die grasperk neer en kyk hoe jou hond of kat die “ysies” geniet terwyl hulle ook sommer afkoel in die proses. 

Gaan kyk gerus op Pinterest vir nog talle oulike idees.

Geniet jou viervoetige kinders hierdie Feesseisoen.

Exit mobile version