Local newsNews

Twis by spoglandgoed draai in hoë hof

Huiseienaars van 'n eksklusiewe perdelandgoed buite Tzaneen is in hofsake betrokke om die ontwikkelaar van 'n "aftreeoord" te dwing om die oorspronklike ouderdomsbeperking van die ontwikkeling af te dwing.

‘n Bitter twis tussen die huiseienaarsvereniging en ‘n aftreeoordontwikkelaar binne een van Tzaneen se mees gesogte landgoede het tot ‘n aansoek in die hoë hof gelei wat die ouderdomsbeperking van die nuwe ontwikkeling wil afdwing.

Volgens die aansoek wat op 29 Junie ingedien is vir beantwoording deur die respondente en wat in die Herald se besit is, vra die huiseienaarsvereniging (HOA) van die Doornhoek Equestrian Estate dat ‘n uitspraak deur die ombudsman vir gemeenskapskemas om die aftreeontwikkeling se minimum-ouderdom te skrap, herroep word.

Die respondent in die aansoek is Tolstoi Kruger, ontwikkelaar van die De Rust-ontwikkeling binne die Doornhoek Equestrian Estate.

Die tweede respondent is die Community Service Ombud Service (CSOS), asook ‘n advokaat van die CSOS, wat glo aan Kruger toestemming verleen het om die ouderdomsperk te skrap.

Die voorwaarde beteken dat enigiemand nou in die “aftreeoord” kan koop.

Also read: Hans Merensky to go under hammer

Doornhoek Equestrian Estate is een van Tzaneen se duurste ontwikkelings en huise word vir miljoene rande gebou en verkoop.

Van die dorp se voorste sake-, beroeps- en regslui besit eiendom in die landgoed.

In ‘n beëdigde verklaring deur die besturende direkteur van die HOA, Werner Schultz, sê die HOA dat Kruger op 28 Januarie vanjaar ‘n aansoek by die CSOS ingedien het om die beperking van “ouer as 40-jaar en geen kinders” op voornemende kopers op te hef.

Op 13 Mei het die CSOS die versoek toegestaan.

Die HOA sê in hul aansoek dat die ombudsman beveel het dat die HOA hul hersiende reëls by die CSOS moet indien. So het Schultz op 21 Junie van die veranderde voorwaardes bewus geword toe Kruger dit aan hul ge-e-pos het.

In Januarie vanjaar het die CSOS die HOA se regsverteenwoordiger en ook direkteur van die HOA, Judy Jacobsz van die regsfirma Thomas en Swanepoel, verwittig van die geskil wat deur Kruger by hulle ingedien is.

Jacobsz het aan die CSOS geskryf dat hulle nie op die kort kennisgewing van die CSOS kon reageer nie. Geen verdere submissies is ooit ingedien by die CSOS nie.

Vergaderings daarna tussen Kruger, die HOA en die partye se regslui was glo nog in proses toe die CSOS se beslissing gemaak is.

Die HOA sê in die hofstukke dat Kruger, wat die aansoek aan die CSOS as eienaar en projekbestuurder gerig het, nie as ‘n eienaar beskou kan word nie.

Die De Rust-ontwikkeling word volgens die hofstukke ontwikkel deur ‘n onderneming met die naam, JV De Rust (JV), ‘n gesamentlike onderneming van Pretorius Broers Konstruksie en Johan Paul Casper Kruger (24) (‘n familielid van Kruger).

Daarvolgens is Kruger dus nie ‘n eienaar nie. Verder sê die stukke dat JV nog nie die volle koopbedrag van R4.8 miljoen (van die eiendom waarop De Rust ontwikkel word aan die oorspronklike ontwikkelaar van Doornhoek, Pieter Scholtz, ‘n sitrusboer van Hoedspruit) voluit betaal het nie.

Also read: How retirement property decisions affect estate planning

Daar is glo nog ‘n bedrag van R2.4 miljoen uitstaande.

Die HOA sê Kruger het die aansoek gebring by die CSOS omdat die aftreeeenhede (20 eenhede mag glo gebou word) se ouderdomsbeperking ongrondwetlik is.

Die HOA sê hulle verskil met die siening.

Na wat verneem word het Kruger glo onlangs okkupasie geneem het van een van twee skoueenhede wat in De Rust gebou is sonder die HOA se medewete.

Die Herald het navrae aan die partye gerig en opponerende mosies ontvang.

‘Ouderdomsbeperking is onkonstitusioneel’

In ‘n beantwoordende verklaring teen ‘n aansoek van die huiseienaarsvereniging van die Doornhoek Equestrian Estate (HOA) om die ouderdomsbeperking op die verkoop van die De Rust-eenhede af te dwing, word die beperking as onkonstitusioneel beskryf.

Twee nuwe partye, Dewald Pretorius van Pretorius Broers Konstruksie en die 24-jarige Johan Kruger (eienaars van De Rust JV (JV), die maatskappy wat die ontwikkeling doen), het tot die regsgeding toegetree.

In ‘n beëdigde verklaring sê Pretorius die bewerings van die HOA in hul aansoek word in dispuut geplaas.

Onder andere word gesê dat die rol wat Tolstoi Kruger gespeel het (een van die aangewese respondente in die HOA se aansoek) bloot die was van projekbestuurder.

Weens die posisie wat hy bekleë het, het hy meeste van die korrespondensie gevoer asook die aansoek aan die ombudsman vir gemeenskapskemas (CSOS) gelei. Hiervolgens het hy dus nie voorgegee om ‘n “eienaar” te wees nie.

Also read: Wildlife Estates more appealing as Covid confines people to their homes

Pretorius sê hulle het in Desember 2019 ‘n ooreenkoms met Doornhoek se ontwikkelaar gesluit om De Rust te ontwikkel en dat deel van die ooreenkoms was die “ouer as 40 jaar beperking en geen kinders” nie.

In die stukke word bevestig dat die HOA se regsverteenwoordiger, Judy Jacobsz van Thomas en Swanepoel, het op 28 Januarie per e-pos ‘n kennisgewing ontvang vanaf die CSOS waarin JV se aansoek aan die CSOS om die beperkings te lig, aangedui word.

Pretorius sê dat die HOA het vanaf Januarie tot April gehad om die aansoek teen te staan, maar dat hulle dit nie gedoen het nie. Daarom betwyfel JV die dringendheid van die aansoek.

Die aansoek verwys verder op e-poskorrespondensie waarin JV te kenne gee dat hulle gaan voortgaan om De Rust te bemark sonder die “ouer as 40 jaar en geen kinders beperking”.

Dit blyk verder dat op 13 April is ‘n verdere e-pos aan André Thomas van Thomas en Swanepoel gerig waarop gevra word om dringend aandag te skenk aan die saak aangesien “ons projek tot stilstand gekom het in afwagting om hierdie aangeleentheid te finaliseer”.

• ‘n Navraag is ook aangestuur aan die CSOS. Volgens hulle is dit teen hulle beleid om op hofsake kommentaar te lewer.

• Na wat verneem word beoog die eienaars van Doornhoek-landgoed om hul ook tot die regsgeding te voeg sodat hul belange ook verteenwoordig kan word.

Die saak was geskeduleer om op Dinsdag 20 Julie in die hoë hof in Pretoria te dien.

Related Articles

Back to top button