Local newsNews

Baba gebore met ingewande buite

‘n Babaseuntjie is verlede Donderdagoggend in die Van Velden Hospitaal in Tzaneen gebore met gastroskise, ‘n ongewone toestand waar die ingewande aan die buitekant is.

Hermanus en Bianca van der Walt, oorspronklik van Parys in die Vrystaat, was heeltemal onbewus van die toestand totdat Bianca Donderdag vyf weke voor die bevallingsdatum in kraam gegaan het en hul seuntjie, ook Hermanus, normaal die wêreld ingekom het.

Volgens Elandri Oosthuizen, Hermanus se suster by wie die egpaar tans bly nadat albei hul werk weens die covid-19-pandemie verloor het, het Bianca Donderdagoggend omstreeks 06:00 gesê sy het pyn. Bianca het glo reeds vanaf 01:00 die oggend al begin pyn verduur.

Elandri het besef Bianca is waarskynlik reeds in kraam en met haar vanaf Modjadjiskloof waar hulle woon na Van Velden Hospitaal gehaas.

Hermanus is kort na hul aankoms gebore. Dit was egter vir almal ‘n groot skok toe hy met gastroskise gebore is omdat geen van die voorgeboorte sonars dit gewys het nie.

Elandri sê die sonars wys hoe hy met sy rug na buite lê en dat dit waarskynlik nie sigbaar was nie. Bianca het die sonars by die Potchefstroom Hospitaal laat doen voordat hulle Limpopo toe verhuis het.

Daar was egter geen komplikasies met die geboorte nie en alles het normaal afgeloop.

Ma en kind is albei gesond. Hermanus is intussen na die Mankweng Akademiese Hospitaal oorgeplaas waar hy gespesialiseerde behandeling kry en waar dokters hoop dat die toestand homself sal oplos deurdat die ingewande deur die naeltjie weer sal terugglip.

lees ook: Tzaneen: Hospital ‘fails patients’

Indien dit nie gebeur nie sal ‘n operasie nodig wees.

Dokters het hulle egter verseker dat die toestand nie so ongewoon is wat ‘n mens sou verwag nie en dat klein Hermanus nie in gevaar is nie.

Teen druktyd Dinsdag was sy ingewande nog steeds buite in die sakkie waarin dit opgebind is.

Bianca is tans by haar kind in Mankweng-hospitaal waar sy hom versorg.

Lees ook: Baby health scares: Watch out for the signs and symptoms

“Ons is net ongelooflik dankbaar dat niks skeefgeloop het tydens die bevalling nie,” het Elmarie Vorster, Bianca se skoonma aan Herald gesê.

Weens die groot finansiële druk wat op die familie geplaas is, het hulle hul tot skarefinansiering gewend om geld in te samel om al die kostes te probeer dek.

Elmarie sê dit is onmoontlik vir haar dogter Elandri en haar man (by wie Bianca en haar seun Hermanus woon) om al die kostes te dek en daarom vra hulle die hulp van die gemeenskap om hulle deur dié tyd te dra.

Hulle benodig alles wat ‘n klein babatjie nodig het, sê Elmarie. Inwoners wat graag die gesin wil help, kan vir Elandri kontak by 063 855 1341, of hulle kan na die webtuiste, Back-A-Buddy gaan en soek vir “Baba Hermanus” waar ook donasies gemaak kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button