Van wêreldfilmstelle tot Magoebas

Alicia Boshoff is ‘n rekwisietekunstenaar en pirograaf wat naam gemaak het deur op verskeie internasionale produksies te werk. Herald het by haar en haar gesin in Magoebaskloof gaan kuier.

Toe Alicia Boshoff op 21-jarige ouderdom vir haar pa sê sy gaan ‘n lewe maak deur etnies-geïnspireerde skeppings van leer te maak, sou hy nooit kon dink dat dié kunswerke haar na van die wêreld se grootste filmstelle sal neem nie.

Alicia woon vir die afgelope drie jaar in Magoebaskloof saam met haar verloofde, Juanne Steenkamp en hul agt maande oue babadogtertjie, Arielle, waar hulle groot drome het het vir hul plaas op die noordelike hange van die kloof.

“Ek kan regtig nie glo dat ek so gelukkig is om so ‘n wonderlike man en kind te hê en in dié mooiste plek te kan bly nie,” het sy aan die Herald vertel tydens ‘n besoek op die plaas.

Juanne en Alicia saam met Arielle.

Alicia is ‘n gesogte rekwisietekunstenaar op filmstelle en het al op produksies soos Mad Max gewerk waar sy vir ‘n jaar lank saam met ‘n span van Hollywood, en sterre soos Charlize Theron, in Swakopmund in Namibië skouers geskuur het.

Charlize Theron in Mad
Max.

Die Britse kostuumontwerper van Mad Max, Jenny Beavan, het die Oscar vir haar werk in die produksie gewen.

Haar deurbraak in die bedryf het gekom toe sy op ‘n reeks, The Devil’s Whore, gewerk het saam met Michele Clapton, wat daarna die ontwerper vir Game of Thrones geword het.

Nog ‘n groot eer het haar te beurt geval toe sy gekies is om in Beijing, China op die produksie, Asura saam met Nyla Dickson te werk wat ‘n groot naam in die bedryf is en al verskeie toekennings ontvang het.

Alicia se irografiewerke waarvoor sy bekendheid verwerf het
Alicia se irografiewerke waarvoor sy bekendheid verwerf het

Also read: Consumers urged to use heaters safely

Binnekort word Monster Hunter wat Milla Jovovich in die hoofrol het en waarop sy ook gewerk het, uitgereik.

Sy het ook so pas gehoor dat sy gekies is as hoof van die departement vir handgemaakte rekwisiete met ‘n span mense onder haar op ‘n internasionale produksie wat vanaf einde Junie in die Kaap geskiet word en waarvoor die hele gesin tot en met Desember Kaap toe gaan.

Alicia se styl leen hom uitstekend tot fantasie- en post-apokaliptiese periodeproduksies.

Ander bekende produksies waarop sy gewerk het is Black Sails, Resident Evil en Raised by Wolves – reekse wat in die Kaap geskiet is en waar sy vir vyftien jaar gewoon en gewerk het voordat Juanne haar na Limpopo kon weglok.

Sy vertel sy het in Johannesburg in ‘n familie van kunstenaars grootgeword en het onder die bekende beeldhouer, Jan van der Merwe, by die Pretoria Technikon gestudeer.

“Ek wou eers beeldende kuns studeer, maar het eendag in die kunsmuseum in Pretoria ‘n installasiewerk van hom gesien en ek was so aangeraak dat ek op beeldhou besluit het omdat hy die dosent was.”

Sy het ook aanklank gevind by sy verbintenis met die Afrikaner se geskiedenis wat in van Van der Merwe se werke uitgebeeld word en wat ook in haar eie familiegeskiedenis ‘n rol speel.

In haar twintigs het Alicia vir tien jaar saam met ‘n Britse vriendin in Europa by kunstefeeste ‘n boetiek bedryf waar sy haar pirografiese werke en kledingstukke verkoop het, veral haar African bodice-stukke wat tot vandag baie gewild is.

Also read: Limpopo farmers support Hunger Month

“Ek het steeds kliënte uit Europa wat ek destyds ontmoet het vir wie ek skeppings maak.”

Haar inspirasie kom uit die Noorse mitologie en sy het ook ‘n liefde om diere, nie net die Groot 5 nie, maar ook Europese en Amerikaanse diere, in haar werke te gebruik.

“Ek is ‘n kind van die negentigers, ‘n tydperk waar superhelde en fantasieë soos Lord of the Rings ‘n groot rol in ons grootword gespeel het,” sê sy.

Alicia werk net met wildsleer waarvan 40 persent van die verkoopsprys na natuurbewaring gaan.

“Die leer word gebuik om iets te maak wat die dier se wese vasvang en so voortleef.”

Alica en Juanne is diep gelowige Christene. Hulle het ‘n band wat reggae gospel speel en is baie omgewingsbewus.

Op die plaas is hulle selfvoorsienend en wek hul eie energie op.

“Ons het koffiebome geplant wat nou vir die eerste keer begin vruggies dra,” vertel sy.

Juanne is ‘n skrynwerker van beroep wat dikwels ook op filmstelle werk.

Also read:  Kragkabeldiewe in Arbor Park gejaag

Hy het begin bou aan ‘n nuwe huis vir die gesin wat op die rand van die berg oor die vallei uitkyk.

Hulle beplan om ‘n ‘backpackers’ en ‘n venue te begin vir intieme troues, en natuurlik ‘n werkswinkel vir Alicia om haar Mystic Tribehandelsmerk, uit te brei.

Sy het tot onlangs ook ‘n baie gewilde Etsyaanlynwinkel bedryf, maar het dit weens die geboorte van Arielle tydelik gesluit.

Alicia vertel dat sy aan die begin alles met die hand gemaak het, maar het met die geld wat sy uit Mad Max verdien het, ‘n lasergraveermasjien gekoop wat dit moontlik maak om vinniger te werk.

“Ek kan letterlik enigiets maak, as jy oor iets spesifiek droom, kan ek dit skep,” sê sy.

“Ek het God gevra dat ek ‘n boerehippie-man kan ontmoet en vir ‘n gesin, alles wat aan my gegee is,” sluit sy af.

Kontak haar op haar Facebook, Mystic Tribe, of Whatsapp 072 634 9932.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version