Local newsNews

Tzaneense entomoloog word opvoedkundige ‘YouTuber’

In die Pretoriase grootwordhuis van Ludwig Eksteen, ‘n Tzaneense entomoloog, het sy ma maar geliefd geneem dat daar goggas in die yskas en in die huis aangehou word.

Haar geduld het egter vrugte afgewerp, want vandag spog hy met ‘n MSc-graad en ‘n passie om sy vakgebied met ander te deel.

“Ek was vier jaar oud toe ek saam met ‘n familielid die Van Engelenhuis, wat die nasionale insekversameling van Suid-Afrika huisves, besoek het.

Ek het daarna vir my ouers gesê dat ek ‘n insekkundige wil word,” gesels hy.

Vandag woon hy reeds drie jaar in Tzaneen en het ‘n YouTube-kanaal waar hy videos oplaai wat deur hom en sy vrou, Angelique, wat self ‘n meestersgraad in mikrobiologie het, vervaardig word.

Hulle het mekaar ontmoet toe hulle saam by Tuks se “Forestry, Agricultural and Biotechnology Institute” studeer het en deel ‘n liefde vir die natuur, en veral die insekte waarsonder die wêreld nie sal kan bestaan nie, sê Ludwig.

Sy spesialisgebied is in bosbou-entomologie waarop hy sy meestergraadstudies gedoen het en in besonder watter bome die indringer Sirex -woodwasp verkies as gasheer.

Hy het ook die invloed van bobbejane op die wespe se boom keuse, nagevors.

Tuis “bestudeer” hy graag die menige insekte wat hy by sy huis op die Hamawasha-hoewes het. Sy gunsteling-insek is die “trap jaw ant”, ‘n mier wat ook sy die logo van sy YouTubekanaal en sosialemediabladsye, “a BugMan’s Life” is.

Hy vertel dat die mier tans as die tweede vinnigste in die diereryk geag word omdat sy kake of “mandables” teen 230km per uur toeklap.

“Dit lyk behoorlik of die mier ander klein goggas doodslaan.”

‘n Hommelby wat deur Ludwig afgeneem is.

Ander “troeteldiere” waarop hy graag gedragsnavorsing doen en ook van sy videos vervaardig, is skerpioene (wat groen is onder ‘n UV-lig), mierspesies se eetgewoontes en die verband met hoe vinnig hul groei, en natuurlik sy gunsteling, sy “gooty ornamental”-spinnekop wat hy Smurfette gedoop het.

“Die spinnekop kom van die Gootyomgewing in Indië en het die mooiste metaalbloukleure. Selfs mense met ‘n fobie vir spinnekoppe sal gefassineer wees deur die mooi dier.”

Hy het ook ‘n vistenk en ‘n versameling van 500 insekte (wat 300 spesies insluit).

Hy hoop om die versameling deur sy lewe uit te brei en te vergroot.

Die Krugerwildtuin is hulle gunstelingplek waar hulle graag videos maak.

“Tzaneen is so ‘n lekker plek om te bly want jy het Magoebaskloof waar daar ‘n ryk bron van interessante goggas is terwyl ‘n mens maklik ook na die wildtuin kan gaan om videomateriaal te skep.

Smurfette.

Jou ervaring van wat die wildtuin bied is soveel meer wanneer jy begin om die kleiner diere en insekte in te sluit,” vertel hy.

As student het hy drie keer pryse gewen vir die foto’s wat hy geneem het.

Hy is twee keer as die makro-fotograaf van die jaar aangewys en het een jaar met die gesogte “Fabian at Work”-fotoprys weggestap. Ludwig sê daar is meer en groter insekte in Tzaneen as in ander dele van die land wat sy werk vir hom baie lekker maak.

“Ek nooi graag mense uit om my YouTube-kanaal te volg asook my sosialemediabladsye.

“Stuur vir my vrae en foto’s en ek gee graag raad en identifiseer uitsonderlike goggas. Op 20 Mei is dit “World Bee Day” en enigiemand kan vir my vrae oor bye stuur en ek sal dit vir hulle antwoord!”

sluit die insek-opvoeder af. E-pos Ludwig vir enige inligting by bugmanslife@ gmail.com of gebruik die meegaande QR-kode op jou selfoon om na sy YouTube-kanaal te gaan.

Related Articles

Back to top button