‘Daar is kuns in elkeen van ons, net in verskillende vorme’

'n Plaaslike kunstenaar wat resin- en makramie-juwele maak, het tydens covid ook begin om werkswinkels aan te bied.

“Buite is vir my bitterlik mooi. Uile wat mekaar roep in die aand, bergstrome, die ongelooflike skakerings van groen in die berg, die sterre en sonsondergange. Deur die jare het ek bewus geword van hoe baie detail daar in die mooi om ons is en hoe ons dit miskyk.”

So gesels Hesmari van der Merwe, ‘n plaaslike juwelier en kunstenaar wat haar skeppings onder die handelsnaam Viveca bemark.

Hesmari is in Duiwelskloof gebore en het in Polokwane grootgeword. Na haar egskeiding verlede jaar het sy Tzaneen toe getrek en woon tans in Georges Valley.

 

“Viveca is gebore want daar was gate om toe te stop met twee tienermeisies op hoërskool. Deur die dag het ek gewerk en in die begin, na ek my ma-wees-pligte en huiswerk klaargemaak het en almal gaan slaap het, het ek gesit en geskep.”

Met haar juwele bring sy hulde aan die die natuur. “Ek tel graag klippies op, pluk veldblomme en versamel stukkies hout. Ek werk ook graag met tou en klei en peuter graag met nuwe mediums.”

 

 

Haar hoofmediums waarmee sy haar juwele skep is resin en makramie.
“Met covid moes ek my inkomste nog verder aanvul en het toe met resin- en makramie-werkswinkels begin. Ek kry ongelooflike ondersteuning in Tzaneen en het daarom nou ook uitgebrei na ander dorpe,” vertel Hesmari.

Om haar onderneming te bestuur verg vindingrykheid en moed. “Ek het gelukkig ‘n besonderse ondersteuningsnetwerk. Op die dae wat ek moed wil opgee is hul meer as bereid om vir my van hul moed te leen totdat ek myne weer kan kry. Die feit dat ek regtig geniet wat ek doen help baie om my gemotiveerd te hou.

“Ek volg ook graag suksesvolle entrepreneurs se wenke,” sê Hesmari. “Ek besef ook, veral na covid, hoe geseënd ek is om iets te doen wat my soveel vrede en vreugde verskaf.”

 

 

Sy sê sy het ‘n passie om met vroue te werk en hul te bemagtig. “Kuns is ongelooflike medisyne en wanneer ‘n mens iets nuuts leer en dit onder die knie kry, klim jou selfvertroue.  Ek put ongelooflike genot daaruit om betrokke te wees in die opbou van iemand se selfwaarde. Ek geniet dit om in mense te belê, of dit die vrou is wat oorbelle koop of die een is wat ‘n klas bywoon. Sonder die mense wat Viveca ondersteun bestaan Viveca nie,” sluit Hesmari af.

Kontak Hesmari by 072 440 4933 of besoek haar Facebook-blad Viveca.

Exit mobile version