Verpletterende pyn teister ’n plaaslike kunstenaar elke dag

“Ek het so alleen gevoel en het eerlikwaar naderhand begin dink ek verbeel my rêrig wat besig was om met my te gebeur.” So vertel Raé Liversage, ‘n 28-jarige kunstenaar van Tzaneen wat Schistosomiasis (bilharzia) onderlede het en elke dag in pyn lewe.

Raé vertel dat dié tropiese parasitiese siekte aan mense oorgedra word deur direkte kontak met besmette stilstaande water.
“As plaaskind, het ek my eerste akute infeksie op 15 opgedoen en was daarvolgens behandel met die nodige medikasie. Ek was daarna jaarliks getoets, en op ‘n gereelde basis weer behandel toe dit duidelik geword het dat my akute infeksie omgeskakel het in ‘n kroniese infeksie.”

Soos meeste gevalle van kroniese bilharzia, was haar infeksie baie onopmerklik en maklik om te bestuur.
“Ek’t met tye ligte simptome gekry en vir die afgelope dertien jaar net seker gemaak ek drink maar twee keer ‘n jaar die pille, soos voorgeskryf.”

Aan die begin van 2020, het sy weer haar normale jaarlikse simptome gekry en weer haar pille gedrink, maar haar simptome het nie opgeklaar nie – inteendeel het dit vererger.

“Dit het uiteindelik teen die middel van 2020 my lewenskwaliteit so beïnvloed dat ek na ‘lockdown’ nie weer kon teruggaan werk toe nie om ‘n leefbare inkomste te verdien nie.”

Die stelselmatige progressie van haar simptome het haar familie geweldig bekommer en het sy deur die loop van 2020 verskeie dokters in Tzaneen besoek vir hulp, maar dit het nie veel antwoorde gebied nie.

“Dit was onbeskryflik frustrerend, dit het vir my gevoel asof niemand my ernstig opneem nie, dat almal so na my tatoes kyk en dadelik hulle eie afleidings maak. Ek het so alleen gevoel, en het eerlikwaar naderhand begin dink ek verbeel my rêrig wat besig was om met my te gebeur.”

Sy het vanaf die middel van 2020 onver-klaarbare, verplette-rende kroniese spier-spasmas aan die regter kant van haar lyf begin kry. Dit het so erg geraak dat sy vir weeklikse fisioterapie moes begin gaan om dit onder beheer te hou sodat sy kan rondbeweeg.

“Aan die einde van 2020 was die dokter geskok oor die verdere verslegting in my toestand en het my aangeraai om geld bymekaar te maak om bloedtoetse te doen. My bilharzia-infeksietellings was baie hoog, al het ek in 2020 my medikasie daarvoor geneem. Omdat ek teen daardie tyd nie meer ‘n mediese fonds gehad het nie en geldelik uitgeput was, het die dokter my aangeraai om net weer eens my pille te drink, my medies so gou as moontlik uit te sorteer, en dan terug te kom vir ‘n opvolgkonsultasie en verwysing na ‘n spesialis toe vir ‘n diagnose en behandeling. Na my laaste konsultasie het ek my pille elke ses weke begin drink om die siklus aggressief te probeer breek, maar ek het steeds nie beter geword nie.”

Sy sê sy moet onder andere ‘n pulmonoloog besoek vir haar asemhaling- en bloeddrukprobleme wat tans haar grootste bekommernis is. Sy sal ook ‘n tropiesesiektes-spesialis moet besoek vir ‘n korrekte diagnose en behandeling op die infeksie en ander komplikasies.

“Ek is ‘n kunstenaar – ‘n dromer, ‘n ‘wild child’, ‘n ‘free spirit’ wat tans vasgeketting is aan my eie liggaam. Ek wil bitter, bitter graag gesond word sodat ek weer in staat kan wees om te kan werk en my passies uit te leef om eendag my drome te kan bereik.”
‘n Vriendin het vir Raé ‘n ‘crowd funding’ blad geskep om geld in te samel sodat sy die spesialis in Gauteng kan besoek. “Ek het Nadia Collins deur vriende ontmoet. Sy het na my storie geluister, van my simptome herken en die inisiatief geneem om my te help om by die regte spesialis uit te kom. Sy het self idiopatiese pulmonale hipertensie en het uit persoonlike ondervinding geweet hoe progressief en gevaarlik die simptome is.”

Diagnose vir die toestand behels gewoonlik vyf dae se verblyf en verskeie intensiewe toetse by Netcare Milpark.
“Die kostes vir die regte diagnose en behandeling is baie hoog. Dit sluit dan nog nie die behandeling in, of die onkostes wat ek sal moet aangaan om ‘n tropiesesiekte-spesialis of ander spesialiste te sien nie. Om die onmiddellike mylpaal vir die eerste konsultasie en basiese longfunksietoetse by dr. Paul Williams se spreekkamers te doen, het ons ongeveer R7000 nodig. Dit sluit dan die vervoer na en van Johannesburg in. Van daar sal die spesialis dan ‘n ingeligte besluit kan maak om te bepaal hoe om dit te behandel.”

Raé is oorweldig deur die hulp wat haar ‘crowd funding’ blad op Back-a-Buddy gekry het. “Ek kan nie die mense van Tzaneen genoeg bedank nie, hulle is ongelooflik.”

Donasies vir haar onkostes by Milpark kan deur haar Back-a-Buddy-blad gedoen word. Kontak haar by 082 890 4040 vir meer inligting.

Exit mobile version