‘Ware heer’ Kataza is tuis by sy nuwe huis

Na maande van uiterse stres het die berugte Kaapse bobbejaanmannetjie, Kataza, twee weke gelede in Letsitele aangekom waar hy vir die volgende paar jaar gerehabiliteer gaan word. Karen Engelbrecht het die Riverside Wildlife Rehabilitation Centre besoek.

“Kataza is ‘n ware heer. Op ons reis vanaf die Kaap tot in Tzaneen het ek en Lynne, my vrou, met tye agter op ‘n matras langs sy gespesialeseerde vervoerkrat gelê en met hom gesels en hom gevoer.

Wanneer ek vir hom deur sy deurtjie kos gegee het, het hy dit waarvan hy nie hou nie met sy vinger terug gestoot.”

So gesels Bob Venter, primatoloog van Riverside Wildlife Rehabilitation Centre in Letsitele. Kataza, ‘n agtjarige mannetjiesbobbejaan wat berugtheid verwerf het nadat hy vir maande kos uit huise en restaurante op die Kaapse Skiereiland gesteel het, het op Donderdag 21 Januarie by sy nuwe tuiste by die sentrum aangekom.

“Dit gaan baie goed met hom,” sê Bob.

“Hy was gemaklik en nie verdoof tydens die reis van twee dae.” Voordat Kataza verskuif kon word, het hy ‘n vasektomie ondergaan en is hy vir Covid-19, tuberkulose, HIV en diabetes getoets. In die Kaap was sy stresvlakke ongelooflik hoog.

“Die trop is byvoorbeeld laatmiddag vanuit die hoogliggender berggebiede aangejaag om saans in ‘n spesifieke gebied aangresend aan sakeondernemings en woongebiede te slaap sodat hul maklik soggens gevind kan word. In die oggende is hulle weer berg-op gejaag en die hele dag gemonitor om te voorkom dat hulle nie na die woongebiede teruggaan nie.”

Bob sê ‘paintball’-gewere en ‘bear bangers’ wat gebruik word om bere af te skrik, is geskiet om hulle berg-op te jaag. Die ontploffing van ‘n ‘bear banger’ is 120 Db wat mens en dier se oordromme kan laat bars.

Vrywillers neem ‘n groep ses-maande oue bobbejane vir hul daaglikse oefening.

Also read: Watch: The top 5 African animals you might have never heard of

“Weens die feit dat die bobbejane in beboude gebiede ingejaag is, was daar konflik tussen inwoners en die bobbejane. Sekere mense wil hulle ten alle koste bewaar en die wat onder hulle deurgeloop het, wil hulle weg hê.

Hy sê die bobbejane op die Skiereiland gaan deur onmenslike lyding en hy vermoed hulle word vir proefnemings en navorsing gebruik.

Bob en Lynne het verlede jaar vir Kataza vir vier dae lank in die veld in die Kaap agtervolg en saam met ‘n besorgde groep wat hulself die Angels noem gewerk om data in te samel voordat hulle hul ‘n aanbeveling aan die Kaapse owerhede gemaak het. Bob en sy seun, Mias, was daarna weer Kaap toe om Kataza wat reeds op die ‘doodslys’ was, te red.

“Die Angels is baie lief vir Kataza. Voordat ons uit die Kaap vertrek het, het ek stilgehou sodat hulle hom kon groet.” Volgens die ooreenkoms moet Kataza vir veertig dae in kwarantyn bly. “Sy aanpassing vorder egter so goed dat ons hopelik toestemming sal kan kry om hom vroeër uit kwarantyn te haal,” sê Bob.

Hoewel een van die voorwaardes is dat Kataza vir die res van sy lewe in isolasie moet bly, sê Bob dat hy glo dat ‘n trop gebou kan word en dat hulle uiteindelik weer vrygelaat sal kan word.

“Ons het reeds agt Kaapse bobbejane vanaf Scarborough. Met Kataza se aankoms by Riverside het die Scarborough-meisies hulself aan Kataza kom ‘voorstel’. Saam met dié groep sal ons oor ‘n aantal jare ‘n trop kan bou.

Also read: Animal bridges across the world help preserve vulnerable wildlife

“Hulle sal dan in ‘n omheinde gebied van 600 hektaar naby Ellisras waartoe ons toegang het, vrygelaat kan word en as trop leef.” Kataza is tans baie oorgewig. “In die Kaap het hy op kitskos wat hy uit vullisdromme en restaurante gesteel het geleef. Hy was uitsoekerig en het voorkeure gehad.”

By Riverside is hy op ‘n dieet van vars groentes en vrugte.

“Ons gaan hom mettertyd speen sodat hy op kos vanuit die veld kan oorleef.”

Bob glo dat die rede waarom Kataza hom tot plundering gewend het is omdat hy van sy maaltande verloor het en dit moeilik is om homself met natuurlike kosse te voed.

“Die feit dat hy nie meer al sy maaltande het nie wys daarop dat daar op hom navorsing gedoen is.”

Dis baie duidelik dat dit goed gaan met Kataza.

“Hy toon weer ‘bobbejaan’-gedrag. In die laaste maande het hy toenadering van vroulike bobbejane weggewys. Nou wys hy weer belangstelling,” sê hy. “Dit is ‘n teken dat hy gemaklik is.”

Bob Venter met Kataza in die agtergrond.

Exit mobile version