Varsproduktemark op Mooketsi skep geleenthede

Soggens 05:00 wanneer die Freshlinq Mooketsivarsproduktemark hul deure oopmaak, is dit ‘n miernes van bedrywigheid van kopers wat van heinde en verre kom om teen billike pryse hul varsprodukte aan te koop.

Theo Botha, besturende direkteur van Freshlinq vertel dat die mark sy oorsprong as ‘n ZZ2-plaasmark gehad het. “Freshlinq (destyds genoem FGX – Farm Gate Trading Platform) het toe in vennootskap met ZZ2 en RSA Markagente, die mark in Maart 2014 oorgeneem en dit begin bedryf as ‘n volwaardige varsproduktemark, met die drie vennote wat die volgende rolle vervul het; Freshlinq was die markowerheid, RSA Markagente was die markagente en ZZ2 was beide die ankerprodusent wat aanvanklik die meeste van die produkte op die mark verskaf het, maar ook die perseel verskaf wat vandag gebruik word vir die mark.”

Botha vertel dat toe die mark destyds oopgemaak het, het hul ‘n omset van ongeveer R5 miljoen per maand gehad. Vandag het die mark gegroei tot ‘n omset van R8 miljoen per maand (ongeveer R2 miljoen per week). Hy sê tans is daar ongeveer 16 000 geregistreerde kopers.

ALSO READ: ZZ2 tomato juice awarded CANSA seal of recognition

“Hierdie getal word opgemaak uit die hele spektrum van kopers wat insluit; grootskaal-kopers, informele handelaars asook eindverbruikers. “Die grootskaal-kopers koop hulle varsprodukte by die mark met die doel om dit te verskaf aan groot- en kleinhandelaars in die omgewing asook sover as Gauteng.

‘n Groot persentasie van die kopers op die Freshlinq Mooketsi-mark word opgemaak uit informele handelaars (“hawkers” of sogenoemde “bakkie traders”), hulle koop daagliks varsprodukte by die mark, herverpak dit en verkoop dit weer aan die plaaslike gemeenskappe.” Volgens hom is daar tans ongeveer 450 produsente geregistreer.

“Vanuit hierdie totaal is sowat 120 kommersiële boerderye en die ander is opgemaak uit kleiner-skaal-boerderye en opkomende boere. Vanweë sy ligging bespaar die mark opkomende produsente uitgawes op vervoer en gun ons mark hulle ʼn beter geleentheid om hulle winste te verhoog.

ALSO READ: ZZ2 en Makgobas vertel ‘n inspirerende storie

As gevolg hiervan sien ons ʼn groot aantal kleiner-skaal – en opkomende boere wat suksesvol lewer aan ons mark.” Omdat die mark in die hart van die tamatiewêreld geleë is, het hulle aanvanklik oorwegend tamaties verkoop, maar vandag is aartappels die grootste verkoper, met tamaties wat in die tweede plek inkom. Hulle bied egter ‘n wye verskeidenheid varsprodukte wat onder andere uie, appels, kool, spinasie, pampoene ensomeer insluit.

“By Freshlinq is ons baie bewus van die belangrike rol wat varsproduktemarkte speel om produsente en die plaaslike gemeenskappe rondom ons markte te diens en ondersteun. “Ons markte voorsien ‘n platform vir grootskaal – sowel as opkomende produsente waardeur hulle, hul produkte kan verkoop en sodoende kontantvloei terug kan ontvang vir hulle produkte.

Die bekostigbare pryse van produkte op die mark bied ook vir informele handelaars (“hawkers” of “bakkie traders”) ʼn manier om ‘n inkomste te genereer. Informele handelaars kan produkte teen ‘n markprys koop en dit winsgewend in hul gemeenskappe herverkoop om sodoende ‘n wins te maak.

Ons het al menigte keer die geleentheid gehad om te sien hoe hierdie informele handelaars, in baie gevalle vrouens vanuit die gemeenskap, die volumes wat hulle verhandel oor tyd groei.

Ons sien ook dikwels hoe hierdie informele handelaars se aankope oor tyd vermenigvuldig en hoe hulle later netwerke van vennote betrek om hulle te ondersteun in die uitbreiding van hulle ondernemings.”

Kontak mooketsi@freshlinq.com of skakel 081 680 0065 of besoek die webtuiste www.freshlinq.com

Exit mobile version