Twintig witrenosters onthoring

Terwyl die beperkinge wat ingestel is vanweë covid-19 ‘n massiewe impak gehad het op tradisionele strome van inkomste vir natuurreservate en bewaringsgroepe, het die wreedaardige stroping van SuidAfrika se renosters nie afgeneem nie.

Dr. Joel Alves van WildScapes Veterinary and Conservation Services, het in Desember sowat twintig renosters in die Balule Natuurreservaat wat deel vorm van die groter oopstelsel van die Kruger Nasionale Park, onthoring.

“Al is die stroopgetalle teoreties minder, is die aantal renosters wat oor is om te stroop ook baie minder,” het Alves verduidelik. “Dit skets ‘n skrikwekkende prentjie vir die toekoms.”

In die verlede is die wildreservate rondom Hoedspruit en die Kruger Nasionale Park erg deur stropers geteiken.

“Al is die proses om renosters te onthoring op sy eie nie ‘n kitsoplossing nie, bly dit ‘n integrale deel van wyer taktieke om stropery te beveg,” het Alves verduidelik.

“In die reservate waar ons onthoring het, is daar na afloop van ‘n projek ‘n massiewe afname in verliese en stropers wat die areas binnedring,” het hy gesê.

WildScapes sê dat die onthoring moontlik gemaak is vanweë hul samewerking met vennote, soos hul langtermyn-verhouding met Nkombe-Rhino, die niewinsgewende organisasie van Suid-Afrikaanse rugbyspeler Joe Pietersen en sy broer Willem.

Hul het ook ‘n goeie verhouding met buitelug kragtoerustingverskaffer, Husqvarna wat die broodnodige toerusting verskaf het om die onthoringsprojek moontlik te maak.

“Ons glo werklik ons kan ‘n reputasie bou en ‘n gesprek aan die gang hou wat so krities is wêreldwyd en daaroor gaan dat ons na die omgewing en natuurlewe moet omsien,” het Divan Vermaak, Husqvarna se hoof van sakeontwikkeling vir landbou, veldbestuur en Silent Nature, gesê.

Exit mobile version