Local newsNews

“Dit is Radio Merensky wat uitsaai …”

Hoërskool Merensky het hul na die lug gewend om tydens die inperking kontak te behou met hul leerders.

Die gesegde, ‘n boer maak ‘n plan, word vindingryk vergestalt in Hoërskool Merensky se splinternuwe projek, Radio Merensky.

Hoe behou ‘n skool kontak met 1000 leerlinge tydens grendeltyd? Plasies se antwoord: Radio Merensky – jou aanlyn Plasiestasie!

Louis du Preez, bemarker by Hoërskool Merensky, het die behoefte om die Plasiehartklop steeds met leerders, ouers en vriende te deel, tydens fase 1 van die grendelperiode ontstaan. Die akademiese sy van skoollewe het voortgegaan in die vorm van aanlynklasse, maar hoe gemaak om almal steeds betrokke en ingelig te hou, sodat hulle voel hulle deel in die unieke gees van Plasieland?

Die antwoord was eenvoudig, ‘n aanlynradiostasie.

 

Louis du Preez, stasiebestuurder besig met ‘n opname.

Dinkskrums, diekanttoe en daaikanttoe opinies, ondersoeke na programopsies, soektogte na geskikte aanbieders en tegniese detail, was egter nie só eenvoudig of vinnig nie.

“Omdat die inperking samekomste verbied, word die meeste programinhoud via Whatsapp-stemnotas aangestuur. Dit stel natuurlik ‘n stewige tegniese uitdaging om kop te hou tussen 20 programme se stemopnames,” vertel Du Preez.

Dis net hiér waar die tweede spreekwoord: ‘n Plasie gaan lê nooit, ingeskop het.

Geen tyd of moeite is ontsien om hierdie droom te bewaarheid nie. Dit was dus met groot opgewondenheid dat die eerste uitsending op Maandag, 12 Junie, afgeskop het.

 

READ MORE: ACTIVE FUN DAY HELD AT MERENSKY

‘n Wye verskeidenheid programme,nuus en aktuele programme word vanaf 16:00 tot 19:00, Maandag tot Vrydag, aangebied. Herhalings word op Saterdae aangebied, en ‘n spesiale geestelike verrykingsprogram, Ware Woorde word Sondae om 9:00 en 18:00 uitgesaai. Daar is egter 24 uur per dag heerlike luistermusiek vir elke smaak.

Die programme wat in hierdie stadium die meeste luisteraars trek is RadioFace, ‘n geselsprogram met die kollig op ‘n gewilde onderwyser (aangebied deur me. Yolandi Potgieter); Plaaspraat, aangebied deur die Agri-Merensky-span; Hoofkantoor, waar die topbestuur luisteraars ingelig hou; Stuck, ‘n oorspronklike radiodrama (aangebied deur die MDDK); Pick-A Tune, ‘n versoekprogram (aangebied deur mnr. Muller Boshoff); die tong-in-die-kies Kattekwaad met Katzke en Muscle Heart Soul Fitness onder leiding van die sportsentrumpersoneel.

“Ons is dankbaar vir die personeel en leerders wat hierdie droom met ons deel,” sê Du Preez, “en ons sien uit na hoe die programme gaan ontwikkel en aanpas by die veranderende tye.”

Luisteraars kan op die skool se Facebook-blad luister of aanlyn op die webwerf by hsmerensky.co.za/radio. Android-selfoongebruikers kan die spesiale MRadio app aflaai vanaf die Google Playstore, terwyl iOS- en Windows-foongebruikers op TuneIn deel kan word van hierdie opwindende projek. Vir die wat nie kon luister nie, is daar op die skool se webwerf ‘n potgooi van elke program beskikbaar. Gly na hsmerensky.co.za/radio en luister of laai dit daar af.

Related Articles

 
Back to top button