Local newsNews

Kunstenaar Ina van Schalkwyk maak die beste van grendeltyd

Gerekende plaaslike kunstenaar, Ina van Schalkwyk, se bly- en werkplek in George’s Vallei is nie net gevul met verf en kwaste nie, maar elke hoek en draai het sy eie storie.

Haar plaas Eden lê op die punt van ‘n kronkelpad in ‘n diep kloof en die huis op ‘n terras is omring met ‘n tuin van azaleas, japonikas en rankers.

Sy het die huis, wat nou ‘n retreat vir kunstenaars is, self gebou.

Ina (75) vertel sy het in 1982 van Pretoria af Tzaneen toe getrek en ‘n kunsskool op die dorp begin. “Ek het vyf dogters en ‘n seun en het tien jaar later hier na my ma se plaas, na my pa se dood, getrek.”

Haar ma is daarna skielik oorlede en daarna haar man, Matt Erasmus, aan ‘n hartaanval. “Ek het die eerste 70 000 bakstene vir die huis self gemaak.”

 

Soos wat die jare verloop het, het sy aangebou en verbou.  Sy het ook ‘n kwekery begin om plante vir haar vier hektaar tuin met 4000 azaleas in, te kweek. Vandag het sy verskeie kamers waar kunstenaars vir vyf dae lank kom bly en hulle bedags ‘n werkswinkel bywoon wat deur haar aangebied word.  “Hulle kom van oral oor die land. Ons werk tot so 15:00 en daarna word gerus en saam gekuier,” vertel Ina.

Ina het die laaste drie jaar landwyd in Suid-Afrika en in Namibië werkwinkels aangebied.  “Kuns is hoe jy met lig omgaan en hoe om die korrekte kleure te meng,” vertel sy in haar goed beligte kunsateljee. Hoewel sy geen formele opleiding gehad het nie, was sy van kleintyd skeppend. “Ek het my eerste uitstalling in 1976 in Pretoria gehou. Die tema was, Distrik 6, Houtbaai en Arniston.”

In haar huis is menige skilderye wat haar persoonlik na aan die hart lê. Om ‘n houtpaal in haar huis waar rondom Ina ‘n Griekse kruik geskep het, hang kleurvolle karakoelwol. “Ek het jare gelede saam met ‘n vennoot die Sasekile-wewery begin. Ons het vroue uit landelike gebiede opgelei.” Hulle het tot 150 werknemers gehad. Ina het die ontwerpe gemaak en hul het hul werke in die buiteland verkoop. Ina sê die vennootskap het later tot niet gegaan.

Die inperking weens die koronavirus het haar hard geslaan. “Ek het vir die laaste drie maande nie nie ‘n inkomste nie aangesien ek nie na ander provinsies mag ry nie en plaaslike studente mag my nie besoek nie.” Maar dit het haar ook baie produktief gemaak. Sy noem haar jongste werke “grendelskilderye”.

 

 

Dit is in die laaste drie maande geskep. En daar is ‘n reeks idees en werke wat wag om geskilder te word, verduidelik sy entoesiasties. “Eintlik wil ek net elke dag hier in my ateljee sit en skilder, ek wil niks anders doen nie,” sluit sy af.

Besoek Ina se Facebook-blad om haar jongste werke te besigtig www.facebook.com/inavanschalkwyk71

Related Articles

Back to top button