Editor's choiceLocal newsNews

‘Jy moet ander se hulp aanvaar’

Vadersdag is 'n spesiale geleentheid op die kalender en dit is nie anders vir die Bester-gesin van Tzaneen nie!

Daar is altyd hoop, dit maak nie saak wat nie. So gesels Paul Bester, vlieënier en pa van Chanté (10) en Sioné (7). Paul se vrou, Zané, is in Oktober 2013 op haar fiets voor Wheelbarrow raakgery.

Hulle het twee dae later die lewensondersteunende masjiene afgeskakel.  Chanté was drie jaar oud en Sioné ‘n baba van sewe maande. Sedertdien is hy pa (en ma) van twee pragtige meisies.

Paul, ‘n voormalige lugmagvlieënier, het sedert 2008 brandbestryding gedoen. In die wintermaande was hy in Tzaneen by die LFPA gestasioneer en tydens die somermaande in die Kaap.  In daardie eerste maande sonder Zané, het hy baie geleer.  “Ek het besluit om by die roetine te hou en ek en die twee dogters is Kaap toe.” Daar het die kinders met hul eerste versorger, vir wie hulle tot vandag toe baie lief is, Ouma Ellie, leer ken.  “Sy bly op ‘n wynplaas in Paarl en was my buurvrou.”

Een van sy eerste ma-dinge wat hy geleer het is dat as ‘n kind se koors bo 38 grade is, gaan jy hospitaal toe.  “Ek het maar drie-uur in die oggend aan die buurvrou se deur geklop om na die gesonde sussie te kyk.”

Hy het mense wat hulp aangebied het, se knoppie gedruk.  “Jy kan dit nie alleen doen nie.  Ek het gevind dat dit vir mense ook lekker is om te help.”
Paul sê daar is nie ‘n resep vir ouer-wees nie.  “‘n Mens leer maar soos wat jy aangaan en doen jou beste. Wat vir een persoon werk is nie noodwendig reg vir die volgende nie.”

Hy kyk ook nou anders na die wêreld rondom hom.  “’n Mens kan steeds ‘n gelukkige gesin wees ten spyte daarvan dat ‘n mens nie voltallig is nie. Ek sien gesinne om my en kan sien dat hulle gebroke is.”

Paul sê die voorreg om ‘n ouer te wees, oorskadu alles anders.  “Na die ongeluk het my drome verander.  “Ek het aangepas by my nuwe omstandighede.”
Hy werk tans as vlieënier vir ‘n groot landbou-onderneming en kan hy sy lewe beter inrig.

“Dit is hoekom ek sê, daar is altyd hoop,” sluit Paul af.

Related Articles

Back to top button