Bekende sakeman van Tzaneen baklei teen immuunsiekte

Muis Joubert van PPS Petroleum is met die gevreesde Guillain-Barre-sindroom gediagnoseer. Hy word in die Little Company of Mary-hospitaal in Pretoria behandel.

“Ek wil weer gesond word, maar dit gaan ‘n paar maande neem.”

So sê Muis Joubert (60), ‘n bekende sakeman van Tzaneen en eienaar van PPS Petroleum nadat hy Maandag na ses dae in die hoësorgeenheid in ‘n hospitaal in Pretoria na ‘n gewone saal oorgeplaas is. Hy is met die immuunsiekte, Guillain-Barre-sindroom, gediagnoseer. Mense met die siekte word deur hul eie immuunstelsel aangeval deurdat skadelike teenliggaampies geproduseer word wat die senuwees aanval.

Joubert het so vinnig agteruit gegaan dat hy nie meer kon loop voordat hy op Maandag 1 Mei in die Little Company of Mary-hospitaal opgeneem is nie.Hy het vanuit sy hospitaalbed aan Herald vertel dat hy rondom Dinsdag 17 April gevoel in sy voetsole en vingerpunte begin verloor het. “Dit was soos ‘n naalde- en spelde-prikkelgevoel.” Op dié dag het hy uit sy voertuig by sy sakeonderneming in Tzaneen se nywerheidsgebied geklim. “Dit het gevoel asof die aarde se swaartekrag my na onder trek. Ek moes letterlik op die gebou se trappe gaan sit.”

Tog het hy met sy werk voortgegaan, maar het algaande baie sleg begin voel. Hy is na sy huisdokter wat bloedtoetse geneem het. Hy het bloeddrukpille gekry om te drink maar net al hoe slegter gevoel. Hy is daarna deur twee ander dokters ondersoek wat ook toetse gedoen het. “Teen die tyd wat ek Woensdag 29 April by ‘n internis kom, was ek al so swak dat ek met krukke moes loop.”

Die internis het hom na ‘n neuroloog in Pretoria verwys, maar voordat hy kon gaan, moes hy ‘n Covid-19-toets ondergaan en drie dae wag voordat die uitslae beskikbaar was. Hy het uiteindelik Maandag 1 Mei by die neuroloog uitgekom. Weer eens het hy ‘n reeks toetse ondergaan waaronder ‘n MRI. “Teen die tyd moes hulle my optel om my op die tonnelbed te plaas.” Sy toestand was so ernstig dat die dokter Maandagaand laat onmiddellik met behandeling begin het nadat die diagnose gemaak is.

Hy is Maandag 11 Mei na ‘n gewone saal oorgeplaas. “Die personeel is baie gedissiplineerd weens die koronapandemie. In die hoësorgeenheid word geen besoekers toegelaat nie en streng reëls word toegepas.”

Joubert sê dit is nog onseker oor presies wat die sneller van die siekte was. “Ek moet nog ‘n behoorlike gesprek met die neuroloog hê wat hopelik meer lig sal werp,” sê hy.

Sy herstelpad gaan waarskynlik maande neem. Hy kry tans fisioterapie en arbeidsterapie, kan al op sy eie sit en op sy sy draai. “Wanneer ek hier ontslaan word, gaan ek eers na ‘n herstelfasiliteit waar ek behandeling sal voortsit.”

Joubert sê dit is maar die derde keer in sy lewe wat hy in ‘n hospitaal beland. Sy laaste besoek was in 1974 vir ‘n blindedermoperasie.

“Daar is reeds ‘n groot verbetering en ek reageer goed op die behandeling. Ek wil weer gesond word.”

Exit mobile version