Local newsNews

Sterk ons restaurante in Tzaneen se hande

Inwoners wat vir weke nie by hul gunsteling-restaurant kon gaan eet het nie, kan darem nou 'n wegneemete laat aflewer.

Restaurante in Tzaneen verdien die ondersteuning van inwoners en as gemeenskapskoerant wil ons graag bydra om hul weer op die been te bring.

Benno Stander, besigheidsbestuurder van die Herald-groep, sê die plaaslike restaurantbedryf wat reeds swaar getrek het onder ekonomiese druk, is hard geslaan toe hulle op 26 Maart saam met die res van die land gedurende die inperkingstyd moes ophou om handel te dryf. Nou, na amper ses weke, is daar lig aan die einde van die tonnel met die vergunning dat wegneemetes afgelewer kan word. “Ons gee graag ons ondersteuning aan dié belangrike sektor in ons gemeenskap.” Herald het met ‘n paar plaaslike restaurante gesels om te hoor hoe hulle vaar.

Angelique Els, bestuurder van Monya’s in die middedorp, sê hulle is baie verlig om weer te kan begin handel dryf.

“In die inperkingstyd het ons ‘n webtuiste gebou waar mense aanlyn bestellings kan plaas en dit werk baie goed. In normale omstandighede maak ons staat op instap-klante, maar nou kan ons klante maklik op die webtuiste help.”

Sy sê hulle is baie verlig dat hulle nie hul deure hoef te sluit nie. “Hierdie toegewing kom betyds en ons is oorweldig deur die ondersteuning wat ons ontvang.”
Els sê die kelners trek ook swaar in die tyd. “Hulle kry ‘n basiese salaris en dan kan hulle tot en met R15 000 per maand verdien met fooitjies.”

Die eienaar van Highgrove-restaurant, Frikkie van der Merwe, sê hulle het Vrydag 1 Mei begin om pizzas op bestelling af te lewer en dit gaan baie goed.

“Sodra ek meer personeel het wat weer begin werk sal ek my spyskaart uitbrei,” sê Van der Merwe. Soos alle ondernemings in die bedryf gaan hy ook gebuk onder finansiële druk. “Die twee weke voor die inperking amptelik begin het, het my die hardste geslaan. Ons moes drankverkope staak en ons sake het tot ‘n kwart gekrimp van wat dit was. Waar ek gewoonlik rondom middernag huis toe gegaan het, was ek soms al 18:00 by die huis.” Highgrove het ‘n klein motor waarmee hulle hul aflewerings doen.

Magoebaskloof Hotel sê hulle het ook begin om etes af te lewer. Jadon Baker, ‘n bestuurder, sê hulle het ‘n uitgebreide spyskaart wat deur bekende plaaslike sjef, Horst Dombrock, voorberei word. Hulle is bekend vir hul tuisgemaakte gekookte etes en lewer in Haenertsburg en Tzaneen af sonder enige ekstra kostes. “Ons Tzaneen-aflewerings hang af van die aantal bestellings wat ons ontvang,” sê hy.

Hansie Hoffmann, mede-eienaar van Spur, voel ook optimisties. “Ons is baie besig sedert ons Vrydag 1 Mei begin het om aflewerings te doen.” Hulle lewer elke dag vanaf 11:00 tot 18:00 in ‘n 4km radius af en vra R20 afleweringskoste. Hulle het twee motorfietse wat ry asook ‘n bakkie. “Ons almal spring in en doen aflewerings as dit druk raak.” Fooitjies word gespaar waarmee personeellede wat tans nie werk nie, ondersteun sal word. “Tans is dit net bestuurders wat werk asook een braaier. Oor naweke het ons twee braaiers om by te hou,” sê hy.

Een van die grootste uitdagings is om die adresse op te spoor. “Baie huise het nie nommers op nie en by van die komplekse moet inwoners hul bestellings by die ingang kom afhaal. Maar ons kla nie, ons is baie bly dat ons weer sake kan doen.”

Related Articles

Back to top button