Local newsNews

Malaria tref ‘n gesin van Mooketsi baie hard

Gevalle van malaria het in April die hoogte in geskiet.

“Ek het glad nie vermoed my kinders het malaria nie. Ek het gedink hulle het verkoue wat in griep omgesit het.”

Julie Ras, ma van Karlien (13), ‘n graad 7-leerder aan Laerskool Duiwelskloof en Tiaan (17), ‘n leerder aan Hoërskool Merensky, vertel hul nagmerrie-ondervinding het begin ‘n week voordat haar twee tieners op 17 April gehospitaliseer is.

Herald het op 24 April berig oor die skielike toename die afgelope weke in malariagevalle in die omgewing.

 

LEES OOK: MALARIA CASES SPIKE IN LAST WEEKS

Julie en haar gesin woon in die Mooketsi-omgewing op ‘n plaas. “Ons area is glad nie dig bevolk nie, so die moontlikheid van malaria het nooit by my opgekom nie.”
Sy het albei die kinders na haar werkgewer se kliniek geneem waar hulle griepmedikasie ontvang het. Toe die koors en koue koors nie wou wyk nie, is sy dokter toe met albei. “Dr. Shani van den Heever het albei net een kyk gegee en gesê sy dink dit is malaria. Die toets is sommer in die spreekkamer gedoen en hulle is onmiddellik in Mediclinic opgeneem.”

 

Karlien in Unitas-hospitaal.

Karlien is in die hoësorgeenheid opgeneem, daar is sy ook vir Covid-19 getoets. “Ek kon haar glad nie besoek nie weens die streng reëls rondom die koronavirus-rampsituasie. Tiaan is in die algmene saal opgeneem, maar ek kon darem in die hospitaal slaap om naby hul te wees as hul my nodig kry,” sê Julie.

Tiaan is Dinsdag 21 April ontslaan, maar hoewel Karlien se toetse gewys het dat sy genees is van malaria, het sy nierskade opgedoen.

“Op dieselfde dag is ons per ambulans na Unitas-hospitaal in Pretoria waar sy weer in die hoësorgeenheid opgeneem is en weer vir Covid-19 getoets is. Ek kon haar weer nie besoek nie, maar die hospitaal het my in gastekamer geakkommodeer. Toe sy na ‘n gewone saal oorgeplaas is, kon ek darem langs haar bed sit.”

Karlien het dialise ontvang vir haar niere. “Aanvanklik is gemeen dat sy dit vir twee weke lank dialise sal moet kry, maar na haar tweede behandeling was sy reeds beter.”

Julie en Karlien is op Dinsdag 28 April ontslaan en is terug huis toe. Verlede Donderdag is hulle Tzaneen toe vir bloedtoetse. “Ons was oppad huis toe, toe die dokter bel en sê Karlien moet onmiddellik terug hospitaal toe vir ‘n bloedoortapping, waar sy vier eenhede ontvang het.” Karlien is uiteindelik Sondag 3 Mei weer huis toe.
Weens die nierskade en die baie medikasie moet sy ‘n spesiale dieet volg en moet sy aanvullings neem.

“Ons glo dat een muskiet het albei die kinders waarskynlik op dieselfde tyd gesteek.” Sy sê sy raai inwoners aan om ‘n malariatoets wat teen R55 by apteke beskikbaar is, tuis aan te hou en onmiddellik te toets wanneer hulle griepsimptome kry.

“As ek deur my storie net ‘n paar mense kan waarsku oor hoe gevaarlik malaria is en hulle die beproewing kan spaar, sal ek bly wees. Ons as gesin wil vir elkeen wat gebid het, boodskappe gestuur het en omgegee het, baie dankie sê!”

Related Articles

Back to top button