Local newsNews

Gee, gee, gee … gee vir Tzaneen te midde van Covid-19-pandemie

Die SAVF benodig die ondersteuning van Tzaneeners om vir gesinne te sorg tydens die inperking.

Covid-19 het die werk van die SAVF Tzaneen hard geslaan omdat geldinsameling deur hul projekte nie in April kon plaasvind nie en waarskynlik ook nie in Mei gaan gebeur nie.

Die organisasie het 70 gesinne wat hulle versorg deur onder andere aan hul ‘n maandelikse kospakkie te gee.

Ina van Rensburg, ondervoorsitter, sê die organisasie sien al vir meer as tagtig jaar na die kwesbaarste mense in die omgewing om.

“Ons verskaf kospakkies aan diegene wat dit nodig het, bied maatskaplike dienste aan, help om kinders op skool te hou en is altyd bereid om te luister. Al hierdie dinge word gedoen met ‘n karige bydrae van die staat en die Godgegewe talente van vele mense wat help om in te samel, te maak, te bak en te verkoop.”

 

Vrywilligers pak kospakkies by die SAVF Tzaneen.

“Daar is talle veldtogte wat geld vra, op televisie, oor die radio, internet en koerante. Daar word baie geld ingesamel, maar gaan ‘n breukdeel daarvan ooit in Tzaneen uitkom?” vra sy.

“Nou, meer as ooit tevore, is daar baie mense wat geen of ‘n karige inkomste het en geen manier het om vir hulle kinders en self te sorg nie. Die hele wêreld is vasgevang in die pandemie maar ons glo dat Tzaneeners sal saamstaan en sal help.”

Die projekte wat SAVF Tzaneen aanbied om geld in te samel, is “Sakkie vir ‘n Pakkie Projek” waar enigiemand kruideniersware en varsprodukte kan skenk deur dit daagliks by die SAVF se kantoor tussen 08:00 en 16:00 te Agathastraat af te lewer. By die Lifestyle-sentrum kan nie-bederfbare produkte in ‘n houer wat voor Checkers staan, geplaas word. OK Sugarhill het ‘n “Trolley of Hope”-projek waar ‘n kontantbydrae kan gemaak word om ‘n gesin in nood van die broodnodigste kos te voorsien.

SAVF bedryf verder ook die “Wit Olifant Projek”. “Almal gebruik tans die tyd by die huis om hul kaste reg te pak. Dit wat nie gebruik kan word nie, kan gerus in ? sak of ? houer plaas en by die SAVF-kantoor of by Tzaneng Apteek afgegee word. Hierdie items word aan ons gesinne in nood uitgedeel of in ons liefdadigheidswinkels verkoop. Fondse word dan gebruik om die gesinne en kinders in nood van ons gemeenskap te ondersteun.”

Met die winter op hande, word daar verder ‘n beroep op die gemeenskap gedoen vir skenkings van komberse en warm klere.

Inwoners wat betrokke wil raak, kan met die SAVF Tzaneen 015 307 2645 in verbinding tree.

Die SAVF Tzaneen wil elke individu, besigheid en boere te bedank vir hul mildelike ondersteuning deur die jare. “Weet dat dit werklik waardeer word. Sonder hul ondersteuning sou ons nie hierdie gesinne kon ondersteun nie.”

* Die liefdadigheidswinkels is “Dit en Dat” in King Edwardrylaan 2B, Tzaneen en in Modjadjiskloof is dit “The Shop” in Bothastraat langs die verkeersafdeling.

Related Articles

Back to top button