Local newsNews

Mesmaker van Politsi wys sy staal

Die maak van messe is 'n kunsvorm wat baie vaardighede verg.

Op ‘n plaas in die berge van Politsi het ‘n man die kuns van handgemaakte messe bemeester.

Johann van Rensburg, ‘n gebore en getoë Vrystater wat in die bemarkingsafdeling van ‘n plaaslike landbou-onderneming werk, vertel hy het tydens sy studentejare bewus geword van “handgemaakte messe”, maar nooit die geld gehad om te belê in die regte tipe toerusting wat die stokperdjie vereis nie.

Sowat twee jaar gelede het die gogga hom behoorlik gebyt en nou bestee hy al sy vrye tyd aan die kunsvorm.

Johann is ook ’n bedrewe musikant, hy speel hoofsaaklik kitaar, maar kan ’n paar instrumente bespeel. “Ek het ’n baie wye belangstelling, vanaf fotografie, houtwerk, bergfiets vir oefening en die buitelewe.”

Maar op die oomblik is die maak van messe die mees belangrike. “Ek maak hoofsaaklik messe wat vir my mooi is, dus vir myself, maar maak ook messe op bestelling soos wat ‘n kliënt dit verkies. My messe is hoofsaaklik gebruiksitems met ’n sekere funksie in gedagte. Ek verkies om nie blink, skouitems te maak nie. ’n Mes moet werk!”

 

Mini-handbyltjie van 6mm 5160 staal. Foto’s Johann van Rensburg.

In sy werkswinkel het hy al jag-, slag-, biltong-, sjef-, vis- en filetmesse gemaak, asook ’n klein handbyltjie vir gebuik in die kombuis.

Hy het elektroniese ingenieurswese studeer en die metallurgiese kennis vanuit sy studentedae kom nou handig te pas. “Ongeag die tipe staal wat gebruik word, moet ‘n mes ook ’n hittebehandelingproses ondergaan nadat die profiel en basiese skuurwerk van die mes gedoen is.” Die hittebehandeling behels ’n hardmaakproses en dan tempering om die staal eers hard te maak en dan die molekulêre struktuur te laat ontspan wat die staal minder bros, dog sterk maak.

Hy vertel messe word meestal van twee tipes staal gemaak,’n staal met ’n hoë koolstofinhoud of ’n staal met ’n hoë chroominhoud (stainless steel). “Daar is deesdae baie kombinasies van staal wat verskeie chemiese elemente bevat. Elke tipe staal gee dus unieke eienskappe. Afhangende van die toepassing van die mes, word ’n sekere tipe staal gekies wat die beste by die toepassing pas.”

 

Sjefmes (bo) en filet- of vismes (onder) van 2.5mm N690 staal.

 

Sodra die staal bepaal is, begin die groot werk. “Baie skuur en afwerking, die hefmateriaal en -vorm moet gekies word, skede moet gemaak word, my logo word op die lem aangebring, die lem moet skerp gemaak word en die mes moet gedokumenteer word,” vertel hy.

Die grootste bevrediging is om ’n klaar produk in jou hand vas te hou en elke oomblik van die wordingsproses te herleef. “Ek het amper ’n persoonlike verhouding met elke mes wat ek maak! Om ’n gelukkige kliënt te sien en goeie terugvoer te kry, is natuurlik die kersie op die spreekwoordelike koek!”

Vir hom is ’n goeie mes of dit voldoen aan die doel waarvoor dit gemaak is, of die staal die regte hittebehandeling ondergaan het en dan baie belangrik, hoe lank ’n mes skerp bly.

 

Twee taktiese of gevegsmesse gebaseer op die “tanto”-styl van 5mm N690 staal.

Iemand wat in die kunsvorm belangstel, kan op die internet kyk. “Daar is heelwat mesmaakkursusse wat aangebied word deur ervare mesmakers. Wat egter nie buite berekening gelaat moet word nie, is dat ’n mens darem redelik met jou hande moet kan werk en ook kreatief moet wees. Dit is egter dinge wat aangeleer kan word en kom met oefening, geduld en tyd!”

* Mense wat belang stel in Johann se werk, kan die Facebookblad “JVR Handmade Utility Blades” onder Johann van Rensburg opsoek.

Related Articles

Back to top button