Tzaneen-egpaar dankbaar na brand

Johannes en Elize Kotzé gesels met Herald na hul nagmerrie-ondervinding.

“Ons was nog altyd mense wat dankbaar was, maar die begrip verdiep wanneer iemand vir jou ‘n sakkie groente aandra.”

Johannes en Elize Kotzé het verlede week Dinsdag alles verloor toe hul huis in Christiaan Mullerstraat in Tzaneen in puin gelê is. “Dit laat jou bietjie anders kyk na die omstandighede van ons land,” sê Johannes.

 

 

Johannes is ‘n prokureur wat van sy huis af administratiewe regswerk doen. Elize is ‘n bloemiste wat voorheen Sanmarié’s Corner bestuur het. Sy is ook ‘n geleentheidsorganiseerder.

Aan huis van hul dogter, Chantelle Luther, vertel hulle aan Herald hoe vreemdelinge, bure, die brandweer en die buurtwag hulle in die chaos van die brand gehelp het. Johannes sê hulle het ongeveer 22:00 gaan slaap. Teen 23:30 het hulle wakker geword van katte wat lawaai asook ‘n klapgeluid.

“Ek het opgestaan en gesien Elize se naaldwerkkamer brand,” vertel hy. Hy het na die waskamer gegaan om ‘n emmer water te kry. “Dit was egter al te laat, die vuur in die kamer het reeds ‘geblaas’.”

In die chaos wat daarna gevolg het, het die vuur binne vyf minute deur die hele huis versprei. ‘n Kwartier later was alles aan die brand en die huis verwoes.
“In my tuiskantoor kon ek my skootrekenaar gryp, maar soos ek daar gestaan het, het ‘n tafel aan die brand geraak, al was daar nog nie vlamme nie.” In die gang het die vlakke van plek tot plek gespring. Die vuur maak ‘n suig-geluid en dan hoor jy hoe iets ontplof.”

Elize het buite gestaan en probeer om Chantelle te skakel. Omdat hul selfone nog in die hoofslaapkamer was, het sy nie haar nommer gehad nie. “‘n Buurman kon op die internet haar nommer opspoor en ek kon haar bel.”

Chantelle sê sy antwoord nie oproepe in die nag nie. “Maar Dinsdagaand het ek in my slaap omgedraai en gesien my foon se lig flits. Dit was ‘n vreemde nommer en om een of ander rede antwoord ek. Al wat ek hoor is my ma se stem wat sê, ‘kom asseblief, ons huis brand’.”

Die brandweer het uitstekende werk gedoen. “Die hoofslaapkamer het ‘n brandmuur tot teen die dak en het nie afgebrand nie, maar erge rookskade veroorsaak. “Hulle kon die huis nie red nie, maar het die omgewing beveilig sodat die nie na die bure versprei nie. Hulle het ook die skuifdeur van die hoofslaapkamer gebreek om on selfone te kry.”

Chantelle het baie lof vir die vroulike lede van die brandweer. “Hulle het deernis en het gehelp om van my ma se klere uit te haal, alhoewel dit erge rookskade het.”
Johannes het ‘n brandmerk op sy arm van blikkieskos wat ontplof het. “Die hitte en rook is ongelooflik. Selfs die boute waarmee die kluis in die muur vasgeskroef was, het losgeskiet.” Hulle kon hul twee motors en hul karavaan red.

Elize se antieke meubels, waaronder ‘n kas wat in haar ouerhuis gestaan het, skilderye en ander persoonlike besittings van sentimentele waarde is daarmee heen. Sy het ook reeds 147 maskers gemaak en bekuit gebak wat sy aan liefdadigheid wou skenk. “Dit is vreemd om donasies van ander mense te ontvang. Ons was nog altyd mense wat gegee het, nou is ons aan die ander kant van die muntstuk,” sê Chantelle.

Al oorval emosie Johannes en Elize nog, is hulle dankbaar vir die wonderwerke wat gesorg het dat hul verlies nie erger was nie. Hul kleinkinders sou by hul kom kuier het, maar het weens die inperking nie gekom nie. Ook die ongelooflike werk van die buurtwag is hulle oor uiters dankbaar.

Ons is oorrompel met die mense van Tzaneen wat hulle ondersteun. “Party bring net ‘n sakkie boontjies, maar hulle gee wat hulle kan.”

*Inwoners wat gebruiksartikels wil skenk, kan dit by Petro Nel, Aqualaan 55, aflaai waar sy dit sal stoor totdat hul blyplek gekry het.

Exit mobile version