TZANEEN: Ouma Petro vertel plaasstories

'n Herald-leser se verlange na haar kleinkind het haar geïnspireer om te begin skryf.

‘n Ouma wat na haar kind en kleinkind verlang het haar plaaservarings in ‘n boekie vir kinders neergepen.

Petro Pieterse het vier jaar gelede van die stad na Lorna Dawn, een van ZZ2 se plase in Mooketsi, verhuis.

“Ek sien my kinders maar min aangesien ek voldag werk en my seun meer bo in Afrika is as in die land. Ek kom vanaf Pretoria en wil graag wat ek sien en beleef met my kleinkind deel – ek vind baie dat ek in die motor met hom gesels al hoor hy my nie.”

 

 

Petro se kleinseun, Ethan, is sewe jaar oud en bly in Benoni.”Ek het besluit om dit wat ek wil deel in ‘n storie te verweef en het dit begin neerskryf.” Petro sê nadat iemand dit gesien het en gevra het of sy dit in ‘n boek gaan bind het sy daaroor begin dink.

“Twee en ‘n halwe jaar later het ek die bul by die horings gepak en met die hulp van Unda Roux by MyEbook het ons die uitleg en voorblad beplan en in boekvorm, getiteld Plaasstories op die die Plaaswerf, gesit.”

Omdat drukkostes so hoog is moes sy besluit hoeveel om te laat druk want net een of twee is te duur. “So ek het voluit gegaan en nou moet ek dit bemark want selfpublikasie is selfdoen.”

Sy het al ‘n hele paar verkoop. “Mense se reaksie daarop is wonderlik! Van ‘dis so vervlaks oulik, al wat ek wil doen is lees’, tot ‘ons geniet ons gate uit’.”

Een leser vertel haar vierjarige kleindogter kan die stories terug vertel nadat dit vir haar gelees is en kan nie wag dat daar nog moet kom nie.

Petro sê sy skryf net naweke. Die boekie het 12 stories en is bedoel vir kinders onder tien jaar. “Ek is maar net ‘n ouma wat met my kinders wil deel wat ek beleef. Dit is wonderlik om te hoor dat ander die stories ook geniet.”

Die boekie is by Boulevard Toy Shop beskikbaar of kan bestel word per Whattsapp by 082 339 7054.

Exit mobile version