Bekende en balju lê klagtes teen mekaar

Die balju van Tzaneen is 'n kontroversiële persoon wat al menige inwoner verkeerd opgevryf het met sy beweerde kru taal en roekelose gedrag.

’n Bekende inwoner en voorsitter van die wêreldlandbouorganisasie is glo die jongste slagoffer van beweerde hardhandige en roekelose optrede van die plaaslike balju.

Dr. Theo de Jager het by monde van sy regsverteenwoordiger, mnr. Stephan van Rensburg, gesê die balju, mnr. Tertius Robertson, het einde Desember verlede jaar by De Jager se huis op sy plaas in George’s Valley opgedaag terwyl hy met vakansie was. Hy het na bewering beslag gelê op goedere met ‘n waarde van R500 000 weens ‘n taksasierekening wat glo uitstaande was.

In Januarie het De Jager en sy vrou Karin die balju se perseel besoek om van die goedere terug te kry. “‘n Bedrag wat die balju aangegee het, is betaal,” sê Van Rensburg.

Dr Theo de Jager

By aankoms het hy gevra vir ‘n itemlys. Na bewering wou twee assistente van die balju hom nie toelaat om ‘n opname van die uitstaande items te maak nie. ‘n Onderonsie het ontstaan wat uiteindelik daartoe gelei het dat die hulle wedersyds klagtes van aanranding by die polisie aanhangig gemaak het.

Robertson is intussen deur ‘n groep van sy beweerde slagoffers by die baljuraad aangegee. Die groep word verteenwoordig deur ‘n Johannesburgse advokaat, mnr. George Barnes. Barnes het einde Augustus verlede jaar ‘n brief aan dié raad en aan die minister van justisie en korrektiewe dienste geskryf oor Robertson se optrede. Die brief is in die Herald se besit.

LEES OOK: CHAOS AND FRUSTRATION AS GTM COMPUTERS ARE SEIZED 

Hierin sê Barnes dat hy is deur verskeie prokureurs in die omgewing genader oor Robertson se optrede. Die regslui wil egter nie hul name genoem hê nie omdat hulle afhanklik is van hom om werk vir hul te verrig. In die brief word voorbeelde van Robertson se beweerde kru taalgebruik en gewelddadige optredes genoem.

Barnes het aan Herald gesê dat hy namens mnr. Ben Badenhorst van Rosa Badenhorst Transport optree. Volgens hom was Badenhorst in 2016 in ‘n arbeidsgeskil betrokke met ‘n werknemer. Terwyl die saak op appèl was by die bedingingsraad, wou die balju op een van sy vragmotors beslag lê vir ‘n bedrag van R37 000 vir die werknemer en R10 000 vir die eksekusiefooi. Badenhorst het R47 000 in die balju se trustrekening betaal om dit te voorkom. ‘n Maand later het die bedingingsraad in Badenhorst se guns besleg. Die balju het glo die geld aan die werknemer oorbetaal terwyl hy daarvan bewus was dat dit op appèl was. Badenhorst is die geld kwyt.

“Ons betwis nie die geldigheid van die saak nie, ons vra dat die manier waarop die balju sy sake bedryf ondersoek moet word.” In ander sake waarna Barnes in sy brief verwys, word die balju onder andere daarvan beskuldig dat hy Tzaneen-munisipaliteit se verkeerskantoor se sekuriteithekke gebreek het, sy geweer teen ‘n man se kop gedruk het en twee vroue aangerand het.

Barnes sê sy optredes kom neer op afpersing, intimidasie, bedrog en die skending van die konstitusionele regte van die groter Tzaneen-gemeenskap.

Die balju se prokureur, mnr. Ruan Vorster, het gesê sy kliënt gaan geen kommentaar lewer op die bewerings nie aangesien die saak sub judice is. Ook die baljuraad het teen druktyd nie op die bewerings geantwoord nie.

Exit mobile version