Local newsNews

Veteraanmotors is Hennie se passie

Hennie Smit is al amper 40 jaar 'n geliefde inwoner van Tzaneen. Hy is ook 'n versamelaar in hart en siel en versamel onder andere skaalmodel-motors en veteraanmotors.

Nie net spog ‘n Tzaneense motorliefhebber met nege veteraanmotors nie, maar het hy ook ‘n versameling van 300 speelgoedmotors.

Hennie Smit, eienaar van Midas in Tzaneen, vertel hy het reeds van vroeg in sy lewe ‘n belangstelling in motors ontwikkel. “Dalk is dit omdat my pa nie altyd ‘n motor besit het toe ons kinders was, of omdat ek as die jongste van vier broers hul speelgoed geërf het,” spot Hennie.

Hennie woon al amper 40 jaar lank in Tzaneen. Hy het in 1981 na die dorp getrek en is sedert 2003 die eienaar van Midas.

Sy eerste motor was ‘n 1300 VW Beetle. “Ek het die kewer in 1975 vir R120 by my broer gekoop,” vertel hy.

Toe die veteraanmotorgogga hom byt, was daar geen keer nie. Vandag besit hy nege van die ou statige motors.

Sy gunsteling is sy 1948 Chev-bakkie. “Ek werk al drie jaar aan hom,” vertel hy trots. ‘n Vriend het vir Hennie ‘n foto van die bakkie, wat net uit ‘n dop bestaan het, uit Vryburg gestuur. Sonder om te aarsel het hy die transaksie beklink en die bakkie gaan haal.

Vandag het die bakkie ‘n spesiale plek in Hennie se hart. “Ek het al meer as R200 000 spandeer om hom op te bou en is nog nie klaar nie.” Maar wanneer hy dié sierwa uittrek, draai inwoners se koppe behoorlik om dié rooi bakkie te bekyk.

 

Sy ander veterane is onder andere ‘n ’58 Studebaker Silver Hawk, ‘n ’58 Borgward Isabella, ‘n ’59 1.8 D Mercedes Pontoon, ‘n ’42 Morris-trok en twee vaaljapie-trekkers.

Hennie besit ‘n groot versameling speelgoedmotors.

Hennie se versameling speelgoedmotors is in die Midas-winkel uitgestal. Sy gunsteling is ‘n Aston Martin, ‘n presiese replika van Sean Connery se motor in die James Bondfliek, Goldfinger. Hy het ‘n DVD en hou daarvan om dit van tyd tot tyd weer te kyk. Dié Aston Martin het ‘n sleutel wat die klein masjien aanskakel wanneer jy dit draai. Dit het tot ‘n toeter, vertel hy.

Hennie is ‘n versamelaar in hart en siel. Hy besit ook die grootste bonsaiversameling in Afrika met 18000 bonsais.

Related Articles

Back to top button