Editor's choiceLocal newsNews

Die GROOT reën kom ‘glo’ na more…

More is die ou Krugerdag en die groot reën kom mos na 10 Oktober, of so loop die staaltjie...

Die staaltjie loop mos so. Die groot reën kom na of op 10 Oktober.

Die ou Krugerdag!

Letaba Herald het in die verlede by David Grobelaar, of beter bekend onder ons almal as ‘oom David, gaan kers opsteek.

Oom David, groot gees hier in ons geweste.

Gerespekteerde man met ‘n wye kennis oor Volkekunde.

‘Nee, dié sal ek nou nie vir jou kan sê of dit die waarheid is nie. Dit is maar net 10 Oktober. Die dag van Paul Kruger se verjaarsdag. Maar jy sien, kyk maar om jou rond. Die knoppiesdoringboom staan in blom. Al die grasvelde is groen. Dan kan mens mos ook nie anders om te dink aan die gedig ‘Oktobermaand’ nie,’ vertel oom David.

Sonder huiwerring begin hy dan ook, so sonder boek, ‘n strofe voordra:

“Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand:
Dan is die dag so helder,
so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
die asvaal ou Karoo.”

Daar is baie staaltjies en gelowe waarin mense glo oor wanneer dit nou eintlik gaan reën.

Lees: Elke ‘Deadline’ wag vir dié ‘Magic-water’ in SA

My ouma, en baie ander, glo as die suid-ooster haar draaie in die Kaap begin gooi, kan jy maar weet, die reën kom.

‘n Ou tannie vertel my anderdag, so terloops in ‘n winkel, ‘Jy weet kinta, as die suikermiere soos seekoeie onderstebo lê in my suikerpot, dan maak ons reg vir groot waters.’

Ander glo dat as die duisendpoot sy verskyning maak, en muur opwurm, dan kan jy glo ook maar weet die Hemel se  sluise gaan glo oopmaak.

En so loop die ‘gelowe’ en daaraan hou ons maar net vas, as bygelowe.

Ek is nie ‘n weerkenner nie.

Kan wel met trots sê, het Aardrykskunde destyds goed deurgekom.

Meneer Chris Loubcher het mooi geleer van koue en warmfronte, aanlandige vloei, hoë en laedrukke.

Hoe om weer te voorspel.

Maar ‘n voorspelling bly net dit.

‘n Voorspelling..

Ek het al gewonder of ‘oom weeraanbieder’ elke aand skuins na 19:00 tydens die nuusbulletin besef hoeveel oë op hom gerig is.

Dat duisende boere na hom kyk soos ‘n soort van ‘Dissipel’ wat die goeie ‘tyding’ bring.

Hoeveel in stilte aandagtig staar met die hoop dat die voorspelling ‘n verligting op kaart het.

Aan die eenkant van die aarde woed siklone en tifone. Aan die ander kant verdor die aarde en kraak dit soos legkaartstukke.

Dor.

Die wind waai soms belowend, dat die haan se staalkuif hom op die kerktoring laat tol, Noord-Oos-Suid en Wes in een beweging om en om en dan weer terug.

Dan kyk almal maar in die rigting van die horison, is daar dalk ‘n wolkie, iewers wat opsteek.

Terloops, ek onthou ook van wolke.

Meneer Loubcher het geleer van Cirrus wolke.

Ouma het geglo dat as die ‘perdesterte’, soos sy dit genoem het hulle verskyning maak, dan kom die reën.

Maar ons wag vir die Cumuluswolke. Stapelwolke.

Dit is nou daardie wat bokant ons versamel en ontwikkel in die loop van die dag dikwels tot donderwolke. 

Cumulonimbuswolke.

(Onhou goed nê?)

‘Namate die vogtige lug saampak, bereik die wolke ’n atmosferiese vlak waar hulle uitsprei en ’n kenmerkende aambeeld-vorm aanneem. Dan bars hulle in reën uit.,’ so onthou ek dit.

Of dit nou 10 Oktober, perdesterte in die lug, duisendpote of miere is.

Die hoop vergaan nie, en geloof staan sterk.

Die reën sal kom. Op sy tyd. Soos beplan en beskik.

Dié ‘voorspelling’ is net nie in ons hande nie.

 

 

 

Related Articles

Back to top button