Local newsNews

Tzaneen: Hulle wil die lig wees agter die donker wolk

"Ons is net twee stukkende ma's en gewonder hoe kan ons ander help?"

September is selfmoord bewusmakings maand en twee inwoners, Adriana Serfontein en Santie Delport wat hulle seuns tragies verloor het, het besluit om uit die donker hartseer te tree en daar te wees vir gemeenskapslede wat hierdeur geraak word.

Serfontein en Delport het beide hulle seuns Gregory Miaskowski (19) en Shaun-Dee Delport (15) aan selfmoord verloor.

“Ons het besluit dit is tyd dat iemand uit die donker tree en iets daaromtrent te doen. Saam het ons koppe bymekaar gesit oor wat ons te doen staan. Ons is net twee stukkende ma’s en gewonder hoe kan ons ander help?”

Serfontein en Delport voel deur openlik te praat, deur hulle tragedie te deel met ander, al is dit hoe pynlik, kan hulle optree as ‘n hulpbron en anker vir ander.

“Ons besef kinders moet bewus gemaak word van hulpbronne. Hul moet weet dat daar mense is wat ook omgee al ken hulle hul nie, dat dit normaal is om nie ‘reg’ te voel nie en te praat, te vra vir hulp. Dieselfde vir volwassenes. Ons praat nie oor depressie of geestestoestande nie, ons steek dit weg, want ons voel ons gaan veroordeel en ge-oordeel word, vertel hulle in een mond saam.

Deur hulle “Walk out of the Darkness” veldtog beplan hulle om saam met Pastoor Heinz van die A.G.S Kerk in Letsitele, al die Hoërskole te besoek, om vir die leerders as ook onderwysers inligting te gee en hulpbronne aan te bied. “Ons wil ook graag ‘n geellint strikkie uitdeel aan elkeen sodat hulle hul ondersteuning kan toon.”

Die optog wat hulle beplan sal op 24 September plaasvind in Tzaneen.

“Ons sal vanaf die Lifestyle sentrum deur die dorp stap en eindig by die Skougronde. Ons vra almal om ons asseblief te kom ondersteun,” is die pleidooi.

“Ons vra dat ons saam as ‘n gemeenskap sal stap om elke liewe persoon te wys ons gee om. Dat elke lewe kosbaar is en tel. Dat ons nie nog kinders en geliefdes wil verloor nie. Dat ons almal bereid is om te help en niemand meer in die donker hoef te wees nie.”

Op 28 September sal daar ook ‘n veldtog in Hoedspruit geloods word waar hulle van die Spar na die Pick & Pay toe sal stap.

“Ons vra dat die gemeenskap van Hoedspruit ons ook sal ondersteun. Hierdie is ‘n groot veldtog vir ons, en ons hoop om deur Gregory en Shaun-Dee se stories ‘n verskil te maak en so ook al die ander wat deel is van ons groepie te help om hul storie te vertel.

Hulle bedank graag Blue-Dot wat die projek se plakkate geborg het, Pastoor Heinz vir sy tyd en hulp om die kinders en persone toe te spreek. At Leonard word ook bedank vir die water wat geborg word vir die staptog. Daar is egter nog een versoek. “Ons vra vir borge vir T-hemde, geellinte en spelde.”

Enige besigheid wat graag waterpunte wil behartig langs die roete is ook welkom om deel te wees van die inisiatief. Vir meer besonderhede en inligting epos: bertus@herald.co.za of skakel 087 287 6847 tydens kantoor-ure.

Word deel van hierdie projek dit is in almal se belang.

Related Articles

Back to top button