Tzaneen se poskantoor was al te blink maar nou so stink

"Dit is vuil. Dit is walglik, en dit is wat dit is. Ek het daar gestaan en gewonder hoe was dit jare terug."

So het ‘n inwoner aan Letaba Herald vertel nadat sy verlede week Tzaneen se poskantoor besoek het.

Ironies genoeg is die eens spog poskantoor in 1983 en 1986 vereer met toekennings as die skoonste en beste poskantoor in die toe Noord Transvaal streek.

Tzaneen se poskantoor jare gelede. Bron: Tzaneen 75

Tweede plekke was ook die instansie beskore in 1984 en 1988. Maar dit blyk slegs ‘n vae herrinering te wees.

Hang daar ‘n klein silver sleuteltjie aan sleutelring vir jou klein ‘deurtjie’ by die poskantoor? Onthou jy, “Hallo sentrale, nommer asseblief…?”

Die posman met sy grys kortbroek en hemp op sy fiets met die leersak oor die skouer?

In vandag se vinnige wêreld en met sosiale media wat oorgeneem het, huur bitter min mense deesdae nog ‘n posbus of het ‘n telkom telefoon (landlyn) in hulle huis.

En die posbus voor die huis word sekerlik net gebruik vir strooibiljette, as die moeite gedoen word om dit in die posbus te druk.

Indien jy wel ‘n posbus maandeliks huur by die poskantoor, is jy nog een van min wat die koevertjie met die venstertjie gaan uithaal of die poskaart van ‘n familielid wat van iewers vir jou, “Wens jy was hier” gestuur het. Wat nog te praat van ‘Sentrale nommer asseblief…’

Maar deesdae vermy die meeste inwoners die poskantoor.

Tzaneen se ‘nuwe’ poskantoor, op die hoek van Lanie laan en Morgan Straat het amptelik sy deure geopen in 1971.

Maar waar het Tzaneen se poswese begin?

Sedert 1889 was pos afgelewer hier in die Noorde deur ‘n ossewa en later jare met ‘n koets.

Dawn Boman skryf in die boek ‘Tzaneen 75’ dat daar destyds na die pos tydskedule verwys is, in die ‘Postgids van 13 Januarie 1899’ – na – ‘Heen van Haenertsburg Dinsdag en Vrijdag te Krabbefontein 7nm en terug na Krabbefontein, Maandag en Donderdag 7nm te Haenertsburg 9nm.

Dit het dus die koets agt ure berg af geneem en 14 ure terug, ‘n roete wat vandag in 30 minute voltooi kan word.

Luidens die artikel van Boman is die posagentskap te Krabbefontein geopen op 1 Julie 1897.

Die ‘Postagenten’ was ‘n ene H.S. Altenroxel en die naaste M.O.O (Geld Order En Spaar Poskantoor) was geleë in Haenertsburg.

Met die opening van die Tzaneen stasie in 1912, was dit moontlik om telegrafiese dienste te kon lewer in ons omgewing. Die Krabbefontein posagentskap is later vernoem na Tzaneen op 1 Oktober 1912 en opgegradeer na ‘n M.O. poskantoor.

Boman vertel in die artikel dat volgens ‘n gesprek op band tussen ‘n boer genaamd Bennet en ‘n ene Morgan, die destydse hotel eienaar, het hulle glo na Chassie Meeser gegaan wat in diens was van Dr Burnman in Duiwelskloof.

Hier het hulle glo aan hom vertel dat Tzaneen nie oor ‘n posmeester beskik nie en hom gevra om pa te staan vir die posisie. Meeser het glo vir hulle gesê, dis in orde, “Maar waar is die poskantoor?”

“In die pakkie kantoor van die stasie,” het hulle aan hom gesê.

So het Meeser dan Tzaneen se eerste posmeester geword.

 

Jare later is die eerste poskantoor glo langs ‘n winkel genaamd Gold’s Tzaneen Store gebou.

Op 1 September 1919 is Tzaneen se poskantoor opgegradeer na ‘n M.T.T.O, (Money Order Savings Bank, Post and Telephone Office).

Loyd Gumbiti Moyo, ‘n informele straathandelaar wys na die gemors by die poskantoor wat ophoop.

Gedurende 1920 is die stasie kantoor gesluit. Volgens inligting moes Meeser uitree as posmeester aangesien ‘n graad 5 posmeester glo nodig was vir die nuwe poskantoor. Wie oorgeneem het by Meeser is onbekend. Meeser het met sy uittrede glo ‘n plaas gekoop op Pusela en daar vir hom ‘n huis gebou.

Die omgewing is vandag Awie Wessels straat, Aqua Park in Tzaneen. Meeser sterf in 1936 op die ouderdom van 45 weens ‘n spinnekop byt. In 1940 word die poskantoor op die hoek van Danie Joubert Straat en Lanie Laan gebou en ‘n Mnr A Nieman word aangestel as posmeester.

Die gebou was uniek en geliefd onder die inwoners.

Dit was ook ‘n groot aantrekking vir toeriste wat dit blykbaar graag gefotografeer het.

Die sentrale was aan die agterkant van die gebou geleë en die eerste oparateur was Miem Pohl.

Ander name wat opduik as sentrale operateurs is Riekie Senekal, Schalk Vorster en Bonnie Roos. In 1971 word daar weer ‘n nuwe poskantoor gebou teen ‘n bedrag van R292 000.

Die ou gebou het sy deure gesluit op 19 Junie en die oorskuif na die nuwe gebou het oor die naweek plaasgevind. Volgens die artikel deur Boman, het die deure stiptelik die Maandag geopen en is dieselfde vlak van diens gelewer waaraan die publiek gewoond was. Die amptelike opening vind plaas tydens ‘n luisterryke geleentheid op 6 Oktober 1972 deur die minister van pos en telekomunikasie, Minister Marias Viljoen.

Die poswese gaan voort in Tzaneen maar hoeveel persone vandag nog in ‘n ry staan om ‘n seël te koop is ‘n ander vraag.

Maar een ding is verseker, die opgewondenheid om ‘n pakkie te gaan afhaal, sal altyd spesiaal bly.

Daar is lig aan die einde van die ‘vuil-stink-tonnel.’

Johan Kruger, nasionale media woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor het aan Herald bevestig dat die inwoners van Tzaneen binnekort ‘n nuwe poskantoor verwagte kan wees op die standaard wat hy en die inwoners verdien.

“Die Tzaneen poskantoor is op die prioriteitslys van poskantore wat deeglik opgegradeer gaan word. Ons is op die oomblik besig om spesialiste in die opknap van geboue aan te stel en na verwagting sal die werk binne die volgende drie maande begin,” het Kruger gesê.

Luidens Kruger maak poskantoorpersoneel daagliks die area rondom die poskantoor skoon.

Dit blyk egter nie die geval te wees met Herald se besoek Dinsdagoggend, 2 Julie nie.

Kruger het dit egter beaam.

“Dit is ‘n groot taak aangesien die informele handelaars in die straat voor die poskantoor tot redelik baie rommelstrooiery lei,” het hy bevestig.

Onthou jy staaltjies van persone genoem in die artikel of iets wat jy graag met die lesers wil deel oor die poswese van ouds hier in Tzaneen?

Epos: bertus@herald.co.za

Exit mobile version