TZANEEN: Dink twee keer voor jy koop

‘n Drie kilogram sakkie avokado's kon by die smouse vir R30 gekoop word terwyl ‘n enkele avo in die kettingwinkels gemiddeld R13 gekos het.

Deur vrugte by smouse of informele stalletjies langs die pad te koop, word vrugtediefstal daadwerklik aangehelp en kriminele word aangemoedig om selfs meer te steel.

Dit is die boodskap van Pieter Vorster, die voorsitter van Agri Letaba, nadat K9 Sekuriteit die afgelope week weer vrugtediewe op heterdaad met ‘n groot klomp avos in hulle besit betrap het.

“Vrugtediefstal is een van die grootste probleme waarmee ons boere te kampe het. Ons het geen beheer oor droogte, hael of ander weerstoestande nie, maar vrugtediefstal behoort beheer te word en dit kan slegs gedoen word as almal saamwerk. Tans is diefstal ‘n ernstige bedreiging vir die voortbestaan van ‘n groot aantal boere. Ons is in ‘n kritieke droogte en dan word die vrugte, wat onder moeilike omstandighede geproduseer word, nog gesteel ook,” sê Vorster.

Volgens hom is bykans al die vrugte wat by informele stalletjies of smouse langs die pad verkoop word gesteel.

LEES: Tzaneen Hawkers make an honest living

“Deur by hulle vrugte te koop help jy die diewe direk en skep jy nog ‘n groter mark vir diefstal. Koop eerder by erkende handelaars of formele vrugtestalletjies en help die boere so om ‘n bestaan te maak,“ pleit Vorster.

Die teendeel is egter ook waar.

Die afgelope week was daar heelwat opmerkings op sosiale media oor die uitdagings om vars vrugte en/of groente by plaaslike boere aan te koop.

Meeste boere weier om direk aan die publiek te verkoop en daar is nie meer iets soos ‘n boeremark nie.

Enkele pakhuise verkoop wel direk aan die publiek maar dit is hoofsaaklik uitskot produkte.

Plaaslike verbruikers voel dus uitgebuit omdat hulle nie ‘bekostigbare’ toegang kan kry tot die reeks puik produkte wat in ons omgewing geproduseer word nie.

LEES: TZANEEN: Business as usual for illegal hawkers

“Die produkte wat hier verbou word, word mark toe gestuur, daar deur nasionale handelaars en kettingwinkel-groepe aangekoop en ten duurste weer terug gekarwei hiernatoe.

Dan sit hulle wins by en koop ons avos teen tussen R15 en R30 stuk terwyl die boer net langs ons miskien R5 per avo kry. Iets maak mos nie sin nie,” het ‘n plaaslike inwoner op sosiale media gesê.

‘n Informele opname wat Letaba Herald gedoen het wys dat ‘n 2 kg houer piesangs by die informele smouse langs die pad vir R20 aangekoop word terwyl die gemiddelde prys by die kettingwinkels tussen R17 en R25 per kg was – bykans dubbel die smouse se prys en selfs meer.

‘n Drie kilogram sakkie avokado’s kon by die smouse vir R30 gekoop word terwyl ‘n enkele avo in die kettingwinkels gemiddeld R13 gekos het.

Die oplossing is gewis nie eenvoudig nie. Ideaal gesproke moet plaaslike produkte teen ‘n billike prys beskikbaar gestel word vir plaaslike verbruikers.

Boere en pakhuise wat bereid is om aan die publiek te verkoop behoort algemeen bekend te wees terwyl smouse bewys moet lewer dat hulle die produkte wat hulle verkoop wettiglik aangekoop het.

Het iemand ‘n oplossing of ‘n voorstel?

Skakel gerus met Letaba Herald met jou mening:  bertus@herald.co.za

*Foto: Ansie Bergmann

Exit mobile version