Local newsNews

Spesialis duikers herstel dam sluise, vir nou…

Spesialis duikers van Durban het die hele langnaweek by die Ebenezerdam gewerk om die foutiewe sluise te herstel.

Spesialis duikers van Durban het die hele langnaweek by die Ebenezerdam gewerk om die foutiewe sluise te herstel en teen laat Maandagaand het water vir die eerste keer weer deur die sluise gevloei na beide die rivier en die waterwerke.

Die probleem is veroorsaak deur defek hidroliese silinders wat die kleppe van die sluise moet oopmaak.

Dit het daartoe gelei dat geen water uit die Ebenezerdam gelaat is nie. Die probleem het tot op Presidentsvlak aandag gekry omdat water na die massiewe ZCC saamtrek en na Polokwane daardeur geraak is.

’n Geskatte 2miljoen mense woon die ZCC saamtrek tussen Tzaneen en Polokwane by en die water vir die kerkgangers word uit Ebenezer voorsien. Aanvanklik is die werk vertraag deur burokratiese rompslomp voordat ingryping op hoëvlak daartoe gelei het dat Departement Water en Sanitasie (DWS) spesiale magtiging kon gee om die duikspan te betaal.

Lees: Ebenezer Mile 2018: Results and Gallery

Die eerste paar duike was vrugteloos omdat niemand regtig geweet het waar om na die probleem te soek nie en eers nadat ‘n duiker wat voorheen betrokke was inligting gedeel het, het die werk begin vorder. Hoewel die water nou weer vrygelaat word is die probleem nog nie opgelos nie.

Die foutiewe silinders sou Dinsdagoggend na die oppervlakte gebring word om te kyk of herstelwerk of vervanging nodig is.

Intussen het boere en ander rolspelers hul dank teenoor Jacque Kruger van die Letaba Watergebruikers Verengiging uitgespreek wat ook sy hele naweek opgeoffer het en voltyds by die dam was om die duikers te ondersteun en seker te maak die probleem word opgelos.

Diek Coetzee word ook bedank vir die vlot wat hy beskikbaar gestel het om deur die duikers gebruik te word.

Related Articles

Back to top button