Onderwys in noodtoestand in Limpopo

Die traagheid, of onvermoë, van die LDO om vakante onderwysposte betyds te vul, sodat skole elke jaar met ‘n vol kompliment van opvoeders kan begin, het inderwaarheid aanleiding gegee tot ‘n noodtoestand.

Die  voortbestaan van gehalte onderwys in Limpopo is vir die Suid Afrikaanse Onderwys Unie (SAOU) in Limpopo ‘n baie belangrike saak.

Daarom het die bestuur van SAOU (Limpopo) dit goedgedink om die volgende inligting beskikbaar te stel om deursigtigheid te bewerkstellig.

Die laaste keer dat ’n promosievakaturelys vir opvoedkundiges in Limpopo verskyn het, was in die laaste maande van 2017. Sedertdien het die amptenare van Limpopo Departement van Onderwys verskeie navrae in die verband beantwoord met leë beloftes van datums wat net nooit gerealiseer het nie.

Die traagheid, of onvermoë, van die LDO om vakante onderwysposte betyds te vul, sodat skole elke jaar met ‘n vol kompliment van opvoeders kan begin, het inderwaarheid aanleiding gegee tot ‘n noodtoestand.

Leerders word ontneem van hul grondwetlike reg tot kwaliteit onderwys en onderwysers word abnormaal belas met oorvol klasse en addisionele take om die tekort aan opvoeders te ondervang. Die situasie word verder versuur deur die huidige besluit van die LDO om in 2019 slegs ‘n vakaturelys vir vakante hoofposte te adverteer en wel ook net daardie hoofposte wat teen einde September 2018 reeds vakant was.

Hulle gaan glad nie die vakante departemente- of adjunkhoofposte nou adverteer of vul nie. Dan word daar nie eers gepraat van die vakante posvlak 1 (gewone onderwyser) poste nie. Die SAOU (Limpopo) het onlangs ‘n opname gedoen by ledeskole om die omvang van die probleem vas te stel. Die resultaat was skokkend.

Dit is ‘n ramp wat wag om te gebeur. Die Provinsiale Uitvoerende Raad (Limpopo) voel hierdie nood aan eie lyf, omdat daar by amper al die ledeskole dieselfde nood bestaan. Tydens die eerste PUR-vergadering van 2019 is daar ernstig besin oor hierdie toestand en is daar besluit om daadwerklik op te tree.

Normaalweg sal die aangewese proses wees om ‘n vergadering met die hoof van die onderwysdepartement (HOD) te belê sodat SAOU se kommer verwoord kan word.

Hierdie roete het geen redelike kans op sukses nie, want die geskiedenis het geleer dat die betrokke amptenaar nie noodwendig ‘n oop-deur-beleid vir die SAOU as organisasie het nie. Om die probleem te omseil is die hulp van die topamptenare van SAOU ingewin om hierdie probleem met die nasionale forums op te neem. Tydens ‘n vergadering tussen die Limpopodagbestuur en die twee topamptenare van SAOU op 9 April, het elkeen teenwoordig hom- of haarself verbind om hierdie proses end uit te sien. Die gewenste uitkoms is die vulling van alle vakante poste soos dit op die 2019 posverklarings verskyn.

Die volgende stappe is reeds geneem: Brief aan HOD van LDO om die kommer te verwoord en om haar te vra om alle vakante poste te vul deur te begin met die advertering van al die promosieposte in die provinsie. Die brief kan op SAOU se webwerf besigtig word.

SAOU gee opdrag aan ‘n prokureur om LDO op terme te plaas na aanleiding van bogenoemde versoek. Die prokureur plaas die HOD op terme tot 5 Mei. Die brief kan op SAOU se webwerf besigtig word. SAOU se Hoof Uitvoerende Beampte, mnr. Klopper, bring ook die saak onder die aandag van RAVO (ELRC) en die Nasionale Minister van Onderwys, Angie Motshega. SAOU se HUB vergader met hoofde van Naptosa en Sadou om die saak te bespreek.

Beide unies ondersteun SAOU in hierdie saak. Indien die HOD nie reageer op die prokureursbrief (soos genoem by tweede stap) word ‘n saak by die hooggeregshof op rekord geplaas sodat LDO gedwing kan word om gehoor te gee aan hierdie versoek. Die billike en regverdige toegang tot bevorderingsgeleenthede vir opvoeders in Limpopo is ook een van die prioriteite en die dryfkrag agter hierdie proses.

Exit mobile version