Local newsNews

Tzaneen: Water baie streng beperk

Water word vir alle verbruikers in die Tzaneen omgewing ernstig ingeperk, dit sluit landbou- en huishoudelik in.

Die waterbeperkings is ingestel vir water gebruik uit die Ebenezer en Tzaneen damme.

Die beperkings is bevestig tydens die onlangse Sisteem Operasionele Forum (SOF) se vergadering.

“Tydens die 2018/19 SOF vergadering was daar besluit dat industriële- en huishoudelike gebruik beperk sal wees tot 80% van toekenning en landbou tot 60% van toekenning. Die LWGV het, onder sy beheer, die landbou verbruik verder verlaag na 50% van toekenning. Dit het duidelik geblyk by die 2019/20 SOF vergadering dat hierdie beperkings grootliks bygedra het dat Tzaneen dam nie gefaal het nie,” sê Jacque Kruger, nuwe hoof uitvoerende beampte van die Letaba Water Gebruikers Vereniging (LWGV) wat op 1 Maart aangestel is.

Jacque Kruger kom met jare se ondervinding in die water bedryf sowel as projekbestuur.

Die bestuur van die Groot Letaba Rivierstelsel is een van die vele take waarop Kruger gaan konsentreer. Hy betree sy posisie in ‘n tydperk van groot water tekorte en is met die intrapslag direk betrokke by die instelling van nuwe beperkings op die water verbruikers.

Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) hou jaarliks ‘n Sisteem Operasionele Forum (SOF) vergadering waartydens alle rolspelers, wat munisipaliteite, Lepelle Noord Water, Departement Landbou, LWGV en SANParke insluit. Tydens die vergadering word besprekings oor die operasionele beleid vir die komende water jaar bespreek. Historiese inligting, reënval statistieke, huidige damvlakke en geprojekteerde data word gebruik om die damme se prestasies te beoordeel.

Lees: TZANEEN: Water shedding effective from today

Hierdie projeksies word dan gebruik om watergebruik vir die volgende jaar, in hierdie geval April 2019 tot Maart 2020, te bepaal. Vir hierdie jaar se SOF vergadering is die huidige watervlakke vir die Ebenezer dam 65.58% (2018 –92.69%) en Tzaneen dam 17.19% (2018 – 45.67%) gebruik, en ook in berekening gehou dat die verlaagde Tzaneen dam slegs 60% van sy volle kapasiteit kan benut.

Die beplande verhoging sal ook nie op 1 April ‘n aanvang kan neem nie, soos dit voorgehou is aan die LWGV; inteendeel, geen formele aanstelling is tot op datum gedoen nie.

Die 2019/20 SOF vergadering het besluit om industriële- en huishoudelike beperkings op 80% te hou, maar landboutoekennings na 50% verlaag; weereens het die LWGV op sy raadsvergadering van 29 Maart verdere inperkings aanvaar en word landbou onttrekking vir sy lede tot 30% van toekenning beperk. Die beperking geld vanaf 1 April en is reeds aan sy lede deurgegee.

“Hierdie drastiese verdere beperking spruitvoort uit die SOF voorleggings wat aandui dat die Tzaneen dam sal faal teen Augustus 2019 indien geen beperkings ingestel word nie en teen Februarie 2020, met die aanvaarde beperkings en met aanvulling vanaf die Ebenezer dam,” volgens Kruger.

Daar word van die LWGV se kant af ‘n pleidooi aan alle ander belanghebbendes gemaak om die erns in hierdie situasie te sien en gehoor te gee aan die beperkings wat ingestel word. “Daar is nie lewe sonder water nie,” sluit Kruger af.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button