Ooggetuie in gru Mooinooi moordsaak verongeluk in Tzaneen

Een van die staatsgetuie in die gru Mooinooi moordsaak, het Saterdag in Tzaneen met sy motorfies verongeluk op die Deerparkpad.

Wilhelm Loubser (33) se status as ooggetuie was nie algemeen bekend nie en is, volgens sy ma Rachel Marx, geheim gehou ter wille van sy veiligheid en dié van sy gesin.

Joey van Niekerk en Anisha van Niekerk het in Desember 2017 van hul plaas in Mooinooi verdwyn.

Hul uitgebrande motor is later naby Magaliesburg gevind en die oorskot op die plaas van ‘n paneelklopper, wat ‘n werkswinkel by die twee vroue gehuur het.

Luidens die Kormorant is die twee vrouens na die plaas van die beweerde meesterbrein agter die moorde, Koos Strydom, geneem.

Daar is een van die vrouens glo verkrag terwyl Strydom se vrou toegekyk het.

Die Kormorant het berig dat die twee slagoffers vasgebind in ‘n houer geplaas is.

Die vrouens is glo later gehang. Hulle liggame en klere is toe glo in asblikke gegooi. Suur en petrol is oor hulle gegooi en die twee slagoffers aan die brand gesteek.

Lees: “Mooinooi women were hanged and their bodies thrown in dustbins”, says policeman

Gerugte doen tans die ronde dat gemenespel vermoed word met Loubser se dood as gevolg van sy status as ooggetuie.

Dit is deur naasbestaandes in die kiem gesmoor.

Volgens ‘n vriendin van die familie, het Wilhelm se vrou vir Marx Saterdag, (3 November) geskakel nadat hy nie teruggekeer het huistoe met sy motorfiets nie.

Foonoproepe na sy nommer het onbeantwoord gebly. Die hele familie het probeer om hom te kontak en was bekommerd omdat hulle nie kon vasstel waar hy was nie.

‘n Ooggetuie het aan Letaba Herald Woensdagoggend vertel dat hy op die toneel om omstreeks 10:10 Sondagoggend op afgekom het.

“Ek het by die T-aansluiting gestop en gesien daar staan mense by die padverspering en hulle het my genader. Ek het my noodligte aangesit. Ek het na die toneel gestap. Ek het die persoon gesien, en toe ek die motorfiets sien het ek geweet wie dit is.”

Hy het verder aan die Letaba Herald vertel dat een van die omstanders die oorledende se foon in sy hande gehad het.

“Ek het gevra dat hy die foon aan my gee. Ek het noodhulpdienste ontbied,” het hy vertel.

Die motorfiets is glo deur die pad se versperring.

Daar was aanvanklik gerugte dat ‘n taxi by die ongeluk betrokke was.

“Loubser en sy gesin was in veilige bewaring omdat Koos Strydom wou inmeng met Wilhelm Loubser as getuienis. Wilhelm het gesien toe Koos die twee vrouens aan die brand gesteek het nadat hul wreed vermoor was,” is vroeër aan die Herald vertel.

Dit is intussen deur die ma van die oorledene ontken.

“Dit is nie die waarheid nie”, het sy ma aan die Herald gesê.

Sy het egter nie op hierdie stelling uitgebrei nie.

Sy was emosioneel en het vanoggend teenoor die Herald gesê dat sy vir toestemming wag om haar seun te veras.

Hierdie toestemming word vereis omdat hy onder getuiebeskerming was. Sy liggaam is tans by ‘n begrafnis ondernemer in die dorp, waar sy hom nog formeel moet gaan uitken.

Marx het egter geen onsekerheid nie en kon onomwonde bevestig dat die slagoffer wel haar seun was.

Loubser se oorlewende gesinslede is intussen na ‘n ander plek van veiligheid geneem.

Die Herald het vanoggend kommentaar op Loubser se dood en die moontlike invloed daarvan op die saak versoek van die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Luvuyo Mfaku.

Sodra die publikasie hierdie kommentaar ontvang, sal dit met lesers gedeel word.

Media navrae is ook aan die polisie gerig en die Herald sal lesers op hoogte hou wanneer terugvoer ontvang is.

Exit mobile version