TZANEEN: Ent woef in teen katgriep virus

Katgriep is tans erg in omloop in Tzaneen en troeteldier eienaars word gemaan om hulle diere in te ent.

“Daar is tans ‘n probleem met katgriep. Mense moet maar seker maak hulle honde word ingeënt teen dit. Jong diere veral. Simptome is braking en maagspoel. Die diere dehidreer vinnig en as hulle nie gou by ‘n veearts uitkom nie is dit lewensgevaarlik,” het Ellie Potgieter, voorsitter van die Letaba DBV aan die HERALD gesê.

Die virus kan op ‘n mens se perseel dormant raak en maande daar wees, en weer ‘n bedreiging word veral in klam areas op die perseel of reën seisoen, luidens Potgieter. Katgriep is ‘n dodelike siekte wat jong honde baie maklik optel, maar wat voorkom kan word as honde betyds ingeënt word.

Baie mense misgis hulle met die naam katgriep en dink dit is net katte wat die siekte kan opdoen, maar dit is waar hulle verkeerd is.

Katgriep of Parvovirus, kom hoofsaaklik by honde en nie by katte voor nie en die siekte word ook nie van katte na honde oorgedra nie.

Op www.proteaanimalclinic.co.za sê dr. WJ Grobler katgriep is ‘n ernstige siekte wat deur een van die kleinste siekte-organismes, genaamd Honde Parvovirus veroorsaak word. Die virus kan op ‘n persoon se skoensole gedra word – dit is ook die wyse waarop die siekte in 1978 binne ‘n paar maande regoor die wêreld versprei het.

Geweldige groot getalle virus word in die braaksel en mis van siek diere aangetref waarvan een gram mis genoeg virus bevat om meer as 10 miljoen honde aan te steek. Simptome sluit die volgende in: Dikwels hoë koors, Lusteloosheid, Verlies aan eetlus, Aanhoudende braking, skuim om die bek, Diarree wat later bloederig word, Tandvleis wit of blouerig, Buikpyn, en Vinnige ontwatering.

Die simptome verskyn gewoonlik skielik en die hondjie kan binne ‘n paar uur doodgaan. Dit is van die uiterste belang dat gesonde hondjies op ses weke teen die siekte ingeënt word en weer vier weke daarna ‘n skraagdoses ontvang.

Let wel, dat honde dan elke vier weke daarna totdat hulle viertien weke oud is, moet ingeënt word. Dit is ook baie belangrik dat teef honde waarmee geteël word, gereeld inentings ontvang.

Exit mobile version