Editor's choiceNewsSchools

Plasies wen Tzaneen Eisteddfod loshande

Soos alle kultuurtiere reeds weet, het die Tzaneen Eisteddfod in 2018 sy swanesang beleef.

Die leerders van Hoërskool Merensky het egter vir oulaas gewys wie’s baas en met dosyne toekennings en trofees hierdie hoofstuk van 40 jaar suksesvol afgesluit.

In die musiekafdeling het die Hoërskool Merensky muso’s puik presteer.

Vir die heel eerste keer het die beoordelaar, dr. Bertha le Roux, ‘n persoonlike geldbeurs en trofee geskep en toegeken aan Jan-Carel van Niekerk vir sy besondere viooltalent en musikale aanvoeling.

Hy verwerf ook die toekenning as die beste senior snaarinstrumentalis, asook die hoogste persentasie in graad 11.
Van Niekerk deel die mees veelsydige graad 11-toekenning met Janco Blignaut.

Blignaut verdien ‘n medalje vir die beste senior klavieritem.

Met haar dwarsfluit, word Suandrie Corbett beloon vir die hoogste persentasie en as mees veelsydige deelnemer in graad 10.

Sy verdien ook die toekenning vir die beste senior blaasinstrumentalis.
Corbett en Van Niekerk verower ook medaljes as die beste senior kleingroep op fluit en viool.

Die Plasiedansers het hierdie jaar behoorlik tone gepunt.

Sanel Botha behaal die hoogste persentasie in graad 8, Luné Frits in graad 9 en Liam O’Brien en Marné Barnard in graad 10.

Juané Pretorius verwerf ‘n medalje as mees veelsydige graad 8.

Die beste solo seniordanser in ballet is Suandrie Corbett en Crystal Kirstein in die Moderne Dansafdeling.

Die beste senior moderne dansgroep wat bestaan uit Renate Botha, Tenia Albertyn, Joha du Toit en Paige Stephenson verdien beslis hul medaljes.

Liam O’Brien en Marlie le Roux dans ‘n medalje los vir hul duet in die oop afdeling.

Eisteddfod prysuitdeling: Voor: Kesia Pohl, Carlien Gerhardt, Mariesa Schutte, Tenia Albertyn, Amelda Pretorius, Kayla Gaigher, Luané Maré, Meghan Kirstein, Desi de Jager en Ruette Schoeman. Middel: Renate Botha, Joha du Toit, Crystal Kirstein, Marné Barnard, Juané Pretorius, Sanel Botha, Cailin Stones, Ilanie de Bruyn en Jamie Robertson. Agter: Heidi Swanepoel, Nicole Muller, Suandrie Corbett, Jan-Carel van Niekerk, Michelle Robertson, Icke Stucki en Judi Fleischmann.

Ook in die oop afdeling verdien solodansers Liam O’Brien, Marné Barnard en Luné Frits medaljes.

Nicole Muller, graad 10, sien reeds wêreldverhoë wink, nadat sy as die senior wenner van die dansafdeling aangewys is.

In die Engelse afdeling het dit eweneens voorspoedig verloop.

Albei die graad 8 groepe en die graad 10 groep word as die beste aangewys in mimiek en gedramatiseerde poësie.

Zayana Moosa is die medaljewenner met haar impromptu advertensie, terwyl Ruette Schoeman en Christelle Brummer die klein-groepprys in
impromptuwerk verdien.

Suandrie Corbett verwerf ‘n medalje as die mees veelsydige graad 10 deelnemer, en ook as wenner van die prosa-afdeling.

Dit is dus geen verrassing dat sy breëbors wegstap as die seniorwenner van die afdeling nie.

“Praat Afrikaans of hou jou bek,” het in die skoolsaal weerklink toe deelnemers sake in die Afrikaanse afdeling uitgespook het.

Mariesa Schutte verwerf die hoogste persentasie in graad 9, terwyl Amelda Pretorius en Suandrie Corbett dié titel deel vir die graad 10’s.

Corbett is weereens die mees veelsydige graad 10 deelnemer, terwyl Ruette Schoeman die titel vir graad 11 dra.

Dié twee word ook aangewys as beste voordraers van formele poësie in die senior afdeling.

Corbett deel die senior gedramatiseerde poësietitel met Mariesa Schutte.

In die prosa-afdeling kon niemand by Ruette Schoeman kersvashou nie.

Schoeman deel die impromptu leesprys met Kesia Pohl.

Sy en spanmaat, Christelle Brummer, verwerf die prys vir die beste kleingroep.

Kesia Pohl verdien die medalje vir die beste solo senior impromptu advertensie.

Merensky se dramababas in graad 8 kry die toekenning vir die beste senior groepwerk.

Welverdiend, dra Ruette Schoeman uiteindelik die titel as 2018 wenner van die Afrikaanse Afdeling.

Die vyfsterprys ,’Algehele wenner van die 2018 Tzaneen Eisteddfod’, behoort vir die tweede maal in twee jaar aan Plasieland se Suandrie Corbett.

Sy lewer twee musiekitems met ‘n gemiddeld van 86,5%, vier Engelse items met ‘n gemiddeld van 84%, sewe Afrikaanse items met ‘n gemiddeld van 96,7% en twee dans items met ‘n gemiddeld van 89%.

Hierdie skitterkind lewer dus 15 items, met ‘n gemiddeld van 90,3% – voorwaar ‘n pragprestasie.

Alles in ag genome, is dit geen wonder dat Hoërskool Merensky die insisiatief geneem het om in die toekoms pa te staan vir ‘n nuwe Eisteddfod-platform nie.

Meer inligting hieroor sal teen einde November op die skool se webwerf beskikbaar wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button