Tzaneen: Operasie #DamSkoonmaak deur Afriforum

Menige Tzaneeners wat oor naweke graag wil gaan uitspan by Jetty3 kan met 'n geruste hart weet dat Afriforum hulle besoek daar nou meer draaglik gemaak het.

Misnoeë word kort kort op sosiale media geplaas of tong in die kies galgebraak oor die ‘toestand’ van die terrein.

Maar Saterdag, 15 September was ‘n prentjie van ‘n ander kleur by die dam.

Lees: TZANEEN: Afriforum axe illegal harvesting

AfriForum se Tzaneen-tak het Saterdag die Tzaneendam suksesvol skoongemaak.

Onwettige visvangnette wat verwyder is.

Die doel van die skoonmaakaksie was om vullis in en rondom die dam, asook onwettige visvangnette uit die dam te verwyder.

Dié projek is in samewerking met Letaba Bassmasters, lede van natuurbewaring en ander gemeenskapsorganisasies op die dorp aangepak.

Vullis by die dam wat later verwyder is deur AFRIFORUM.

Agt bote en nagenoeg dertig vrywilligers uit die gemeenskap het saamgewerk om nette uit die dam te haal, asook die gebied rondom die dam skoon te maak. Die gesamentlike hoeveelheid vullis wat opgeruim is het ’n groot munisipale stortbak opgevul. “Die Tzaneendam-skoonmaakprojek is ’n gemeenskapsgedrewe aksie wat jaarliks gehou word. Ons doen dit om sowel die ekostelsel van die dam as die omliggende natuur te bewaar,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Die aksie is ook geloods as teenvoeter vir onwettige vissery, waartydens nette in die dam gespan word om groot hoeveelhede vis te vang en kommersieel te verkoop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version