Local newsNews

TZANEEN: Cheney sweis roosters om te gaan spog op skou

Nog 'n leerder van Hoërskool Merensky sweis vir 'n vale om dit vir homself moontlik te maak om aan die Nasionale Landbou Skou te George te gaan deelneem.

Gerhardes Cheney (gr10) verdien ook ‘n veer in die hoed nadat hy besluit het om mini braaisroosters aanmekaar te sweis, en te verkoop.

Cheney en Johan Coetzee, wat varkie broodoonde uit ou gasbottels aanmekaar sweis, gaan beide aan die Landbou Skou deelneem.

Lees:  TZANEEN: Die vark in Johan se verhaal het te doen met ‘n broodjie in sy oondjie

Die kostes daaraan verbonde is ongelukkig aan die stewige kant, maar die twee jong boere se mannemoed laat hulle nie terughou nie.

Skou sal hulle gaan skou!

Gerhardes gaan ook aan die boerbok-afdeling deelneem tydens die skou waar daar gepoog gaan word om natuurlik met ‘n medalje of twee terug te keer.

Hy gaan deelneem in die senior kategorie.

En ander deelnemers moet ligloop, want Cheney spog alreeds met ‘n vierde plek wat hy vroeër vanjaar tydens die Plasie Skou ingepalm het, vierde plek tydens die Letaba Jeugskou en tweedeplek tydens vanjaar se Letaba Skou.

Die idiee om die roosters te sweis het vinnig by hom vlam gevat.

“Ek het vir my ma gesê ek moet iets doen om geld te kry. Ek wil bitter graag na die Nasionale Skou in George gaan.”

“Sy het toe gesê dat ek mos goed is met my hande en ek moet dink aan iets wat ek kan bou of sweis wat ek kan verkoop. Ek het toe op die plaas rondgeloop en dink, toe sien ek ‘n jare oue rooster wat my pa gebou het, en kry toe die idee om roosters te bou wat klein en maklik is om te hanteer,” vertel hy.

Sweis is redelik nuut vir hom, maar dit hou hom nie terug nie.

“Ek het verlede jaar my self geleer sweis deur te oefen en nogmaals te oefen. Ek het ook al ‘n reën meter mannetjie en ‘n skaaphekkie by die skool gebou,” vertel die jongman.

Maar daar is ook tyd vir hingse en bromponies en hy hou hom ook besig deur perd en motorfiets te ry.

“Ek is ook lief om enjins en ander goed uitmekaar te haal en te sien hoe dit alles inmekaar pas en werk.”

Hard aan die sweis.

Natuurlik droom hy om eendag sy eie plaas te hê en sal graag sy ambag as meulmaker wil voortsit terwyl hy boer.

Gerhardes het natuurlik raad vir jongmense wat moontlik ook fondse mag benodig om ‘n droom te bewaarheid.

“Moenie wag vir geld nie. Doen iets self. Al is dit bou of iets maak of ‘n diens lewer teen vergoeding. Dit is ‘n baie beter en lekkerder gevoel as jy hard werk vir dit wat jy wil hê,” vertel hy trots.

Nadat sy roosters op sosiale media geadverteer is, staan sy bestellings (met ons ter perse gaan) reeds op 38.

Die pikante braairooster is 500x380x250 hoog.

En net soos elke Suid-Afrikaner het hy ook raad vir daardie perfekte vleisie braai, so in die gees van Erfenisdag wat ons Maandag vier.

“Enige vleisie is lekker op die kolle veral die gees en gemoed en iemand om dit mee saam te deel soos familie of vriende. En braai sommer enige plek. Maak net seker dit is veilig om daar vuur te maak,” vertel hy.

Dus is die rooster lig, klein en kompak en kan sommer maklik agter jou bakkie se sitplek of kattebak gestoor word.

Sommer so byderhand as daar op die ingewing van die oomblik besluit word, om ‘n vleisie op die kole te gooi, waar jy ookal is.

Dit neem hom sowat 2 ure om een rooster te maak.

Om een van Gerhardes se pikante braairoosters te bestel, skakel Elize Cheney op: 063 773 0472.

Related Articles

Back to top button