Wildstropers verskuif hulle fokus van Letsitele na Gravelotte omgewing

'n Beeswagter wat werksaam is op die plaas van B.J.Vorster is in hegtenis geneem nadat hy op heterdaad betrap is.

Nog drie wildstropers is vasgetrek, die keer in die Gravelotte distrik, na flinke optrede van ‘n sekuriteits maatskappy en ‘n plaaslike buurtwag.

‘n Beeswagter wat werksaam is op die plaas van B.J.Vorster is verlede week in hegtenis geneem nadat hy op heterdaad betrap is, toe hy ‘n rooibok uit ‘n strik gehaal het wat hy self gestel het. Canine Sekuriteit het die eiendom gepatrolleer en op die bok in die strik afgekom.

Wagte is geplaas vir die aand maar niemand het die bok kom haal nie.

Lees: TZANEEN: Nog wildstropers vas

Daar is toe besluit om die wagte vir die volgende dag ook daar te los wat toe vrugte afgewerp het. ‘n Saak is geopen en die persoon is tans in aanhouding. In nog ‘n voorval verlede Donderdagaand is twee vermeende stropers op dieselfde plaas in hegtenis geneem.

Die plaasbestuurder en Canine Sekuriteit het die grensdraad van die wildskamp op die plaas van BJ. Vorster gepatrolleer toe hulle op ‘n gat in die draad afkom. Teen 21:00 het ‘n taxi by die gat in die lyndraad gestop en mense afgelaai.

Die taxi is agterna gesit, van die pad getrek waar daar gevind is dat die lisensieskyf die van ‘n gewone passasiersmotor is en nie aan die taxi behoort nie. Die kamp is toe te voet geinspekteur en 24 strikke is gevind.

Lees: Wildstropers slaan weer toe in Letsitele

Twintig strikke is verwyder en tien wagte is geplaas by die oorblywende vier strikke waarin een rooibok ram gevang is.

Teen 03:00 Vrydagoggend het twee persone hulle verskyning gemaak, die rooibok uit die strik verwyder, geslag en die karkas deur die gat in die draad op ‘n silwer dubbelkajuit bakkie gelaai.

Canine se personeel het op hulle toegeslaan. Een persoon het op die vlug geslaan maar sy makker en die bestuurder van die bakkie is gearresteer.

Na verdere inspeksie is nog 40 strikke in die kamp gevind en afgehaal.

Vroeër die aand is twee Nyala bulle op die plaas van Charl Osmers gestroop en daar word vermoed dat dit dieselfde persone was aangesien Nyala hare en bloed agter op die genoemde bakkie gevind is.

Canine Sekuriteit is baie goed ondersteun deur die Letsitele buurtwag en loof ook beide die Letsitele SAPS onder leiding van Kolonel Erasmus en Gravelotte SAPS vir hulle flinke optrede. Daar word vermoed, dat dit dieselfde groep verdagtes is, wat vir die stropery in die Letsitele gebied die afgelope paar maande verantwoordelik is, aangesien die voetspoorpatrone ooreenstem.

Canine wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir die initiatief en sukses wat behaal word met die bekamping van die wildstropery, lewer die diens heeltemal gratis aan die gemeenskap. Daar is egter heelwat kostes verbonde hieraan en sou iemand ‘n donasie wil maak sal dit hoogs waardeer word.

Skakel: theunsv@herald.co.za vir meer inligting.

Exit mobile version