Plaaslike boer veg teen onteiening

‘n Bekende Tzaneense boer is in ‘n verbete stryd met die regering gewikkel om te verhoed dat sy wildsplaas die eerste plaas in die geskiedenis word wat onteien word sonder vergoeding.

Die HERALD het eksklusief met Johan Steenkamp, bekende avo-boer en stigter van die destydse Peppadew in SuidAfrika, gesels om eerstehands inligting te kry oor diè omstrede onteiening en die jongste verwikkelings rondom die hele proses.

Steenkamp is mede-eienaar van Akkerland Boerdery wat die plase Lukin en Salaita naby die Njeledam agter die Soutpansberg besit. Sy vennoot is sy swaer, Arnold Cloete.

‘n Voorbladberig in Rapport, wat nie feitelik heeltemal korrek is nie, ‘n vlaag flitse op sosiale media wat neig tot sensasie en verskeie ander berigte in die gedrukte media, televisie en radio, het ‘n storm van omstredenheid ontketen en selfs internasionale reaksie ontlok.

Lees: TZANEEN: Onteieningslys rede tot paniek vir plaaslike boere?

“Intussen wil ek net ‘n billike en markverwante prys vir my grond hê. Ons wil met niemand baklei nie, ons wil net met respek behandel word en regmatig vergoed word,” het Johan vandeesweek gesê. “Ek moet baie versigtig wees wat ek sê. Alles is sub judice omdat ons tans in twee hofsake betrokke is – een teen die grondeis van die Musekwa-gemeenskap en, natuurlik, ‘n ander teen die Minister om die onteiening te beveg,” verduidelik hy.

Akkerland Boerdery is aanvanklik ‘n belaglike bedrag aangebied as vergoeding na ‘n grondeis van die Musekwa gemeenskap. Volgens Steenkamp is dit nie naastenby billik of markverwant nie en het hulle ‘n proses begin om die wetlikheid van die aanbod in die hof te toets. Nog voor die proses behoorlik aan die gang was het die nuwe Minister van Landbou en Landelike Ontwikkeling, Maite Nkoana-Mashabane, Akkerland in kennis gestel dat hulle plase onteien gaan word. Ironies genoeg is die regsdokumente die dag voor die Paasnaweek op hulle beteken en is hulle sewe dae gegun om die sleutels van die plaas te oorhandig.

Nadat ‘n dringende interdik teen die Minister ten duurste toegestaan is, is die proses nou aan die gang om die hele onteiening ter syde te stel. Die LETABA HERALD het egter intussen baie betroubaar verneem dat die Musekwa gemeenskap nie ‘n regmatige eis op die plase Lukin en Salaita het nie. Trouens, lank voor hulle eis het die Kuvule gemeenskap hulle aanspraak bewys en ‘n grondeis ingedien.

Hulle prokureurs, Denga Incorporated, het die eis bevestig. Steenkamp wou geen kommentaar lewer op gerugte dat Coal of Africa inderwaarheid agter die hele onteiening-aksie sit en dit niks met ‘n grondeis te doen het nie.

Dit is algemeen bekend dat die plase Lukin en Salaita deel vorm van ‘n steenkool-band wat miljarde rande werd is. Coal of Africa het nie amptelik kommentaar gelewer op ‘n navraag of hulle beplan om steenkool daar te myn nie.

‘n Betroubare bron het egter aan die HERALD gesê dat die myn planne in plek het om nog voor die einde van die jaar daar met mynoperasies te begin.

Dit wil dus lyk of onteiening van die twee plase, wat nie wetlik kan plaasvind nie omdat daar nog nie eers wetgewing daarvoor in plek is nie, niks met die opheffing van gemeenskappe of die teruggee van grond aan regmatige aanspraakmakers te doen het nie, maar eerder met die verryking van ‘n paar individue wat gaan baat by Coal of Africa se aktiwiteite.

Alle navrae aan Akkerkand Boerdery se Prokureurs is ook terugverwys met die antwoord: Geen kommentaar, sub judice.

Exit mobile version