Agri-Merensky pronk met ‘n bulk tydens skou

Die Letaba Skou het hierdie jaar weer vir baie opwinding gesorg - en Hoërskool Merensky was deel daarvan.

Behalwe vir die jaarlikse Potjiekoskompetisie (aangebied deur Tzaneen Sakekamer) waar die Plasies “Beste aanbieding” met hul twee stalletjies gewen het, het Agri-Merensky ook op groot skaal, in drie kompetisies, hul stem dik gemaak.

In die Nasionale Beeskarkaskompetisie het Agri-Merensky agt karkasse, in twee groepe, ingeskryf. Hierdie deelname behels dat die beeste,op die hoef, beoordeel word op die afgelope 120 dae voertydperk.

Dominique Blandin de Chalain – graad 10, senior vleisbeeste, met Arno Last van Agri-Merensky.

Daarna word die beeste geslag en beoordeling vind op die haak plaas. Die SA Fatstock Judging Association, met mnre. Douw Steyn en Tommie Geyser, en mnr. James Jeffries van SAMIC, het op 8 Augustus geoordeel dat die kampioen karkas, asook die reserwe kampioen karkas, aan Agri-Merensky behoort.

Die Plasies se lof is besing toe hul ook die pryse vir die kampioen groep (4 diere) en die reserwe kampioen groep inpalm. Hierdie jaar se Jeugskou (waar leerders beoordeel word op ‘n kennisvraestel, die was en voorbereiding van diere, asook skoumanskap in die ring) het ook Plasietrots opgelewer.

Nicky Smith (graad 11) en Dylon Hallat (graad 8) het breëbors weggestap met eersteplekke in hul onderskeie afdelings: Nicky by die senior vleisbeeste en Dylan by die junior vleisbokke.

‘n Tweedeplek is toegeken aan Gerhardus Cheney (graad 10) in die senior vleisbokke-afdeling. Derdeplekke is behaal deur Dominique Blandin de Chalain (graad 10, senior beeste), Mia Sounes (graad 8, junior beeste), Johan Coetzee (graad 10, senior bokke) en Ruben Erasmus (graad 8, junior bokke). Nicky Smith is aan die einde van die dag aangewys as die algehele wenner.

Die derde kompetisie waaraan AgriMerensky deelgeneem het is die Interras vir beeste. In hierdie kompetisie het al die rasse, in verskillende klasse, teen mekaar meegeding. Agri-Merensky spog met die junior bulkalf kampioen, Itai, van die PinZylras. Schuster, ‘n PinzGauer, is as senior bul reserwe kampioen aangewys. Volgende op die Plasie-kalender is die ALFA Expo wat weer van 18-20 September by die Afridome in Parys aangebied word.

Exit mobile version