Modjadjiskloof omgewing gaan gebuk onder misdaad

MODJADJISKLOOF boere het verlede Woensdag vergader met die stasiebevelvoerder van die Modjadjiskloof SAPS om die vlaag van misdaad te bespreek wat helder oor dag plaasvind.

Die dorp en omliggende omgewing is die afgelope jaar die teiken van misdadigers wat maak en breek soos hulle wil en skynbaar is die polisie magteloos om die boewe vas te trek.

Skootrekenaars, vuurwapens, tv’s, verkykers, flitsligte en ‘n kragsaag is van die items wat gebuit is. Tydens een van die inbrake is ‘n 85 jarige vrou uit haar stoel geruk, op die grond gegooi en ‘n vuurwapen teen haar kop gedruk. Die reeks misdade het almal in ‘n radius van drie km om die dorp plaas gevind. Alhoewel al die voorvalle aangemeld en sake geopen is, is daar geen verdagtes in hegtenis geneem nie.

Vyf boere wat slagoffers is, het aangedring op ‘n vergadering met die hoof van die speurafdeling, Kaptein Makhukhu en waarnemende stasie Bevelvoerder Kaptein Monyela. Volgens die Polisie het hulle tans geen leidrade nie en kon geen vingerafdrukke op die tonele gevind word nie.

Die boere het hul bekommernis uitgespreek dat, sou die tendens voortduur en daar geen daadwerklike optrede van die polisie af is nie, hulle gedwing sal word om reg in eie hande te neem.

Die misdade vind hoofsaaklik helder oordag plaas.

Lees: Gesin bedank rolspelers na Agatha inbraak en verkragting

Die Modjadjiskloof SAPS het onderneem om meer aandag aan die situasie te skenk deur oa patrollies te ry in die omgewing. Vrydagdag is daar weer helder oordag by een van die boere wat die vergadering bygewoon het, ingebreek en is ‘n kamera en dvd speler gesteel.

Volgens inligting het hy nog nie ‘n saak nommer ontvang nie.

Die besorgde boere het aan die polisie genoem dat dit net ‘n kwessie van tyd is voor dat iemand beseer of dood gemaak word en hulle bekommernis is toe Saterdagaand bewaarheid. Volgens inligting is ‘n jongman Saterdagaand omstreeks 19:30 deur twee rowers in sy huis op ‘n plaas net buite Modjaddiskloof aangeval en aangerand.

Die voorval is omstreeks 21:00 Saterdagaand by die Modjadjiskloof SAPS aangemeld. Speurders van die Mojadjiskloof het die toneel besoek maar teen druktyd het die slagoffer blykbaar nog geen saak nommer van die polisie ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version