Tzaneen: Bende rowers plunder plaas

"Ek het my seun belowe ek sal hom heelmaak. Ek voel soos 'n mislukking."

Gewentelose rowers het ‘n huis op ‘n plaas in die Deerpark omgewing geplunder en die familie so-te-sê, rot-en-kaal besteel.

Die familie het op Saterdag 14 Julie deel geword van die misdaad statistiek.

Dier rowers het deure van die huis afgebreek om toegang tot die huis te verkry. Foto: verskaf.

“Dit was nie net een of twee inbrekers nie. Hulle moes meer gewees het, en dit was meer as net ‘n huisroof,” vertel die man, wat verkies om anoniem te bly.

Lees: TZANEEN: Derde plaasaanval in twee dae ruk boeregemeenskap

Die gesin wat sowat 7km van Tzaneen op ‘n plaas woon was nie by die huis toe die rowers toegeslaan het nie. “Ek het vir my seun die oggend gesê ons moet dorp toe gaan sodat ons sy hare kan laat sny.

Toe ons ongeveer 13:40 terugkeer was die huis geplunder,” vertel hy. Die rowers het toegang tot die huis gekry deur die deure af te breek. Hy vertel manmoedig dat hulle nie baie besittings het nie, maar dat die rowers alles waarop hulle, hulle hande kon lê gevat het. “Tot die muurhorlosie en ‘n naelknipper, wie steel dit?” vra hy.

Foto verskaf.

Die rowers het glo ook hulle gr9 seun se skooltas uitgegooi om waarskynlik items in weg te dra sowel as duvet oortreksels is gebruik.

“Sy sakrekenaar, ‘n tablet sowel as sy selfoon is ook daarmee heen.” Hy vertel dat sy seun getraumatiseer is na die voorval en vir ongeveer drie dae na die aanval nie met ‘n aflig wou slaap nie.

“Maar dit gaan nou beter hy het reeds berading gekry.” vertel die pa.

“Hy het drie onderbroeke en kouse oor. Ons het ‘n paar kledingstukke oor. Ons kom elke dag agter van nog iets wat weg is. Ek was nie onmiddelik kwaad nie, maar dit begin my nou inhaal. Ek het my seun belowe ek sal hom heelmaak. Ek voel soos ‘n mislukking. Ek en my vrou en seun is nou soos drie blindes wat mekaar probeer help in ‘n donker kamer. Hierdie is ‘n groot gatslag.”

Die rowers het ook die meeste elektriese toerusting gebuit.

Foto verskaf.

“Hierdie diewe het kom ‘shop’. Dis hulle werk hierdie.”

Hy is vol lof vir die vinnige optrede deur die SAPS sowel as Pieter Venter van Afriforum.

Marius Jacobs van K9 was ook op die toneel en die honde het spoorgesny.

Hulle het egter later teen die teerpad die spoor verloor. Volgens hom het forensies hulle ook goed van hulle taak gekwyt, en vinger afdrukke is geneem.

Een van sy besittings, ‘n groot luidspreker, wat al jare in sy besit is is ook gesteel.

“Een persoon sou nie dit hier alleen oor die beboste terrein kon dra nie. Hulle moes ‘n groep gewees het. Dit kan seker weer vervang word, maar tog dit was ons goed.”

Die gesin se hond, Ceaser het ook erg deurgeloop en dit is ooglopend dat hy deur die rowers seergemaak is.

“Twee alleen sou hom nie onder bedaring kon bring nie, hy is maar ‘shaken’ nou, maar hy is ok,” vertel die man.

Die duidelik onstelde pa vertel hoe hy sidder as hy dink wat kon gebeur het as hy en sy gesin by die huis was toe die rowers toegeslaan het.

“Dit kan met enigeen gebeur. Waardeer jou kinders. Soms is al die voorbereidings om ‘n inbraak te voorkom verniet en draai dit nie in jou guns nie. Hulle beplan alles. Indien ons vroeër moes terug kom weet ek nie.“Hulle sou paniekerig raak, en dan sou hulle heel moontlik brutaal geraak het,” spekuleer hy.

Die gesin bedank al die rolspelers wat hulle tot dusver bygestaan het.

Daar is egter een versoek.

Die gr9 seun is afhanklik van sy gesteelde tablet en Android foon vir skoolwerk en indien iemand in die gemeenskap die gesin kan bystaan, in welke wyse ook al, epos: bertus@herald.co.za

*Letaba Herald het verneem dat die rowers weer op die huis op 24 Julie toegelaan het. Die gesin het verhuis.

Exit mobile version