Tzaneen moet hande vat teen misdaad

Elke inwoner van Tzaneen KAN ‘n bydrae maak om misdaad te help bestry – en met die Gemeenskaps Polisiërings Forum (GPF) wat tans baie aktief is en uitstekende werk doen is daar nou geen verskoning meer om nie betrokke te raak nie.

Min Tzaneeners besef dat daar elke aand deurnag patrollies deur ‘n toegewyde groep mense gery word – teen geen vergoeding nie, in hul eie voertuie en met hul eie brandstof.

Nog minder Tzaneeners besef dat die GPF (Buurtwag, Afri Forum, of een van verskeie ander rolspelers) direk betrokke was by verskeie arrestasies van ernstige misdadigers wat vroeër hierdie jaar plaasgevind het. “Ons werk baie nou saam met die SAPS. Die GPF (of Buurtwag) kan nie onafhanklik funksioneer nie. Ons is nie polisie nie, ons probeer net die oë, ore en hulpmiddels vir die polisie wees.

En in Tzaneen is ons baie gelukkig dat die polisie, ons en van die sekuriteitsmaatskappye baie nou saamwerk om ons gemeenskap veiliger te maak,” het Uwe Kroh aan die LETABA HERALD gesê.

Kroh, wat reeds jare by die GPF betrokke is en baie van sy eie tyd opoffer om misdaad te beveg, het ‘n beroep op almal in die gemeenskap gedoen om betrokke te raak en ‘n rol te speel in misdaad bekamping.

“Een van ons prioriteite is om ‘n gebeurlikheidsplan vir Tzaneen en omgewing op te stel. Ons het gesien hoe chaoties dit kan raak in dorpe waar dinge skeefloop en daar is geen noodplan nie. Dis vir ons belangrik om al die belangrike rolspelers bymekaar te kry en ‘n werkbare gebeurlikheidsplan op te stel.”

Lees: Sterk kragvertoon teen misdaad in Tzaneen

Hy maan ook besigheidslui en inwoners om die geringste misdaadvoorval by die polisie aan te meld. Elke inwoner kan betrokke raak – hetsy deur patrollies te ry, net ‘n koppie koffie en/of toebroodjies te verskaf waar die mense aktief besig is of finansieël by te dra tot die koste om Tzaneen ‘n veiliger plek te maak. Besighede kan byvoorbeeld koeëlvaste baadjies borg.

Die baadjies kos sowat R4 000 elk. Radios is ook ‘n noodsaaklike hulpmiddel en kos sowat R1 800 elk.

Voeg daarby pepersproei teen sowat R120 per houer, brandstof koste en ander uitgawes. Dis egter persoonlike betrokkenheid wat selfs belangriker is – kom help met patrollies of ander logistieke take

. Kroh werk tans ook nou saam met die Tzaneense Sakekamer om “Business Against Crime” aan die gang te kry.

Hy praat juis Vrydag by die ete-vergadering van die Sakekamer vir ‘n paar minute hieroor en oor die GPF. Vir meer inlugting kan Uwe Kroh geskakel word op 076 8339 112.

Hou die LETABA HERALD dop vir gereelde inligting oor die GPF, Buurtwag en Besigheid teen Misdaad.

Exit mobile version