Local newsNews

Annelien ‘n ontvangsdame met ‘n verskil

“EK was oorstelp van vreugde om die toekenning te ontvang want ek het in 1992 ook die eer gehad.”

So vertel Annelien Schoeman wat tydens die Tzaneen Sakekamer se Prestige funksie vereer is as seketaresse/ ontvangsdame van die jaar.

Schoeman wil graag vir Koos en Riekie, Nadine, Marie en Michelle bedank as bestuur van Smit & Kie, sowel as die Tzaneen Sakekamer ‘wat wonderlike werk doen vir hierdie dorp’ bedank.

“Baie dankie ook aan al ons prima kliënte wat my goedgesind is. Dit is voorwaar die moeite werd om by Smit & Kie te werk,” vertel sy. “My werkgewer, kollegas en ons kliente maak dit die moeite werd.

My werk by Smit & Kie gee my die geleendheid om ‘n verskil te kan maak en dit alles pas goed in met die ander areas van my lewe.” Die toekenning was vir haar ‘n groot eer en verrassing.

“Ek word gereeld genooi na funksies saam met Koos en Riekie Smit en ek het gedink hulle bederf en waardeer my weer toe ek genooi is om saam te gaan,” vertel sy. En daar word Schoeman toe ook aangewys as die ontvangsdame van weleer.

“Ek is nie net ‘n skakel wat deurgaan na Koos, Riekie en Nadine wat aan die stuur staan en as ook hoogs gekwalifiseerde makelaars en personeel – ek is die kliënt se eerste gesig of stem. Dus is ek die deur.”

En wat ‘n mooi deur is sy nie. ‘n Deur wat professioneel dog vrolik lyk en nooit strak en stroef nie. ‘n Deur wat glad oopmaak en die kliënt verwelkom en die kliënt in die regte rigting stuur – hetsy ‘n makelaar of adminastratiewe huislid.

Volgens haar is ‘n energieke en positiewe gesindheid asook liefde vir mense bo aan haar lys van prioriteite.

“Natuurlik moet jou ingesteldheid teenoor die maatskappy, kliënte asook personeel altyd suiwer wees. Gereelde introspeksie is belangrik om nie te stagneer nie. Ek is trots om mense te ontvang by Smit &Kie Makelaars.”

“To make others happy and be happy yourself, respect others, and you will not only win them over, but find the best in yourself.”

Dit is ‘n gegewe dat elke besigheid of maatskappy een of ander tyd ‘n moeilike kliënt of ongelukkige oproep ontvang. “Alhoewel ons nie dikwels ongelukkige kliënte het nie moet ‘n mens altyd verstaan dat ons met mense werk en fokus op die oplossing van ‘n probleem.”

Annelien sien elke dag uit om in haar omgewing te werk.

“Dit gee my innerlike vreugde om lief te wees vir mense. Ek probeer om elke persoon se persoonlikheid of gemoed aan te voel en daar op te reageer.” Haar raad aan jong persone wat ontvangsdame as beroep wil volg is eenvoudig.

“Besef elke dag wanneer jy by die deur instap dat jy in die pos geplaas is om te dien en altyd geduldig moet wees. Gebruik inisiatief om raak te sien wat jy alles vir jou maatskappy, personeel asook die belangrikste, jou kliënte kan doen.”

Na nege jaar agter die blad as personeellid by Smit & Kie makelaars is sy steeds trots om deel te wees van die maatskappy en span. Welgedaan!

Related Articles

 
Back to top button