HULDEBLYK: Simon Venter skielik Sondagaand oorlede

Simon Venter, jongste seun van Siem en Martie Venter is Sondagaand skielik oorlede aan sy hart.

Na ‘n virus wat hartversaking veroorsaak het het hy vyf jaar gelede ‘n hartoorplanting gehad.

Hy het goed herstel en kon selfs sy loopbaan as vlieënier hervat. Hy was ‘n passievolle vlieënier en was werksaam by Working on Fire/Kishugu. Hy het die afgelope tyd nie 100% gevoel nie en is Sondagaand in Milpark Hospitaal opgeneem, waar hy omstreeks 23:00 oorlede is.

Tipies in sy aard het hy selfs in sy laaste oomblikke nog grappies gemaak met die mediese personeel.

Simon se vriende en familie sal hom onthou as saggeaard en skaam met ‘n skerp sin vir humor. Hy het ‘n hart van goud gehad en was altyd besorg oor sy familie en vriende. Selfs toe hy baie siek was voor en na die hartoorplanting het hy nooit gekla nie.

Vriende laat weet van heinde en ver dat dit ‘n voorreg was om hom te geken het.

Simon was die afgelope twee jaar in ‘n verhouding met Mieke Schroeder. Sy sê dit was liefde met die eerste oogopslag. Sy sal hom onthou vir sy sin vir humor en dat hy haar elke dag laat lag het. Verder sê sy dat hy die beste in haar uitgebring het met die wete dat hy haar altyd sal liefhê. Sy dank die Here dat Hy Simon vir twee jaar vir haar geleen het en sal dit vir niks in die wêreld verruil nie.

Die familie is dankbaar teenoor die Here dat hy hul vir 29 jaar geseën het met Simon in hul lewe.

Hy was ‘n spesiale mens en sy heengaan los ‘n groot leemte.

‘n Gedenkdiens is Donderdag om 11:00 uit Dinamus Gemeenskapskerk gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version