CrimeNewsLifestyle

Misdaad floreer in Tzaneen, wees bedag

Aqua- en Arborpark blyk tans ‘n rooigebied te wees vir misdaad, en honde word op ‘n streep vergiftig.

In Rodger Millsstraat en Leadwood Singel alleen was daar die afgelope twee weke vier gevalle waar honde glo vergiftig is en waar daar ingebreek, of poging tot inbraak was.

‘n Inwoner wat verkies om anoniem te bly, het aan Letaba Herald vertel dat hulle huisalarm om omstreeks Sondagoggend 01:00 afgegaan het.

‘Ons het niks snaaks vermoed nie. Die alarm is al in die verlede geaktiveer deur ons kat wat op die vensterbank in die kombuis loop. My man het gaan ondersoek instel maar niks vreemds gesien nie,’ vertel sy.

Die skok het egter Sondag-oggend teen sonop op die gesin gewag.

‘My man het sy bloedsuiker toetser gaan soek en vir my gesê, hy kry hom nie. Ek het dit afgelag en gesê hy kyk teen sy ooglede vas,’ vertel sy.

Dis toe dat sy sien dat die diefwering van die kombuisvenster netjies geknip is. Haar handsak het op die kombuisvloer gelê.

‘My karsleutel en beursie was weg. Die bloedsuiker toetser, vadoek, grondboontjiebotter en vrugtesap het buite op die gras gelê.’ Sy vertel verder dat wasgoed ook vroeër die Saterdagmiddag uit die waskamer gesteel is. ‘Dit moes dieselfde rower gewees het,’ vermoed sy.

Northern Sekuriteit en die polisie is Sondagoggend ontbied.

Lees: INFOGRAPHIC: Sexual offences down, common assault up in Tzaneen crime stats

‘Forensies het vingerafdrukke gekry, maar het gesê, dis maar ‘n ‘shot in the dark.’

Die bure se honde is onlangs vergiftig.

‘Dit moet die modus operandi wees, want dit moes die rower(s) se onsnap roete wees deur die bure se tuin,’ benadruk sy.

‘Ons is nou baie bang. Ek het nie ‘n oog toegemaak Sondagaand nie. Ons spreek nou maar net genade oor ons huis uit.’

Cecile Venter, adminastratiewe beampte van Northern Sekuriteit het bevestig dat dié twee strate die afgelope twee weke deurgeloop het onder inbrake en die vergifting van diere. Inwoners word gemaan om uiters bedag te wees met die aanvang van die feesseisoen.

‘Toets alarmstelsels eenkeer per week en maak vensters toe gedurende die nag,’ sê Venter.

Sy verduidelik verder dat inwoners met honde vroegaand genoeg kos vir hulle honde moet gee dat hulle nie gedurende die nag uit die werf moet gaan om kos te gaan soek nie.

‘Ons spesiale patrollie voertuig patrolleer gereeld die gebied. As inwoners se diere onrustig raak moet hulle ons dadelik skakel, of jy nou ‘n kliënt is van ons of nie,’ sê Venter.

Letaba Herald is bewus van nog ‘n inwoner in die Premierpark omgewing waar ‘n inkopiesak met vleis in hulle tuin gekry is.

Die vleis was vergiftig met timik.

Related Articles

Back to top button