MunicipalNews

Die skakelaar is af maar die ligte brand…nou hoe nou?

Dit wil voorkom asof die ANC se streekkantoor in Tzaneen 24/7 die gerief van gratis elektrisiteit geniet.

 Tensy die teendeel bewys kan word.

‘n Inwoner van Tzaneen in die MediPark omgewing het Letaba Herald verlede Woensdagaand geskakel nadat hy elektrisiteits probleme ondervind het by hulle woning.

‘Die krag het afgegaan. Ons het aanvanklik gedink dit is beurtkrag. Maar toe ons buite kyk was dit net ons en die buurman wat se krag af was,’ vertel hy.

Hulle het die probleem geraporteer en daar is glo aangevoer dat ‘n hoofkabel gebrand het.

Hulle krag het ongeveer 22:30 herstel.

‘Iets het net vir my gesê ek moet self ondersoek instel en het na die elektrisiteitsboks toe geloop. Tot my verbasing, was die ANC se kantore se ligte aan, maar hulle hoofskakelaar in die elektrisiteitsboks was heeltemal af, en die meters het nie eers gedraai nie. Nou verduidelik jy dit vir my,’ het hy aan die Herald gevra.

Skakelaar is af maar die ligte van die kantore brand glo 24/7

Word krag vir die gebou van iewers af ‘getap’? Neville Ndlala, woordvoerder van die GTM het nog nie kommentaar gelewer nie.

Letaba Herald het verlede week berig oor ‘n inwoner van Tzaneen wat ontnugter is nadat daar vasgestel is dat sy al vir maande ook haar buurman se krag betaal.

Die buurman se kragtoevoer is gestop na verskeie aanmanings, maar hy het bloot, onwettig elektrisiteit van haar elektrisiteitsboks getap.

‘n Meterleser het haar van die onwettige verbinding in kennis gestel en daar is intussen teen hom opgetree.

‘Ek sou ‘n diefstal saak sowel as ‘n siviele eis teen die skurk gemaak het. Hy hoort agter tralies, maar mense is mos bang vir die gevolge dit is waarom SA so lyk,’ was een van die eposse wat Letaba Herald ontvang het nadat die berig gepubliseer is.

In nog ‘n epos het ‘n leser die volgende voorgestel: “In my hart wens ek al baie lank dat die Munisipaliteit bietjie wil kyk om Prepaid meters in te sit vir hierdie mense wat nie betaal nie. Dink net wat se verandering kan dit wees? Munisipaliteit verloor self baie geld. Maar nou ja, met wie praat mens? Wie gaan in elk geval luister om dit te oorweeg.’

In nog ‘n epos-aantyging, rakende verlede week se artikel, word daar beweer dat ‘n vorige inwoner van Tzaneen sy huis verkoop en intussen verdwyn het.

Volgens inligting word daar aangevoer dat sy elektrisiteits rekening derduisende beloop het.

‘Die munisipaliteit verloor self baie geld. Maar nou ja, met wie praat mens,’ was die oop vraag.

Het jy iets op die hart rakende jou/ons elektrisiteit? epos: bertus@herald.co.za

Related Articles

Back to top button