Bo-normale reën word vir noord-ooste voorspel die somer

As die weervoorspellers reg is, kan Tzaneen en omgewing reg maak vir ‘n bo-normale reënval seisoen die somer.

Cobus Olivier, wetenskaplike in weerstudie voorspellings, verbonde by WeatherSA, het aan Letaba Herald bevestig dat daar tans bo-normale reënval vir die somer reënval gebiede, in die noord-oostelike gedeeltes van die land verwag word.

“Daar is wel aanduidings dat die seisoen dalk bietjie later kan begin. Dit is nie moontlik om spesifiek donderstorms se voorkoms te voorspel nie, maar die somer reënval gebiede se reënval is meestal as gevolg van donderstorms, dus kan mens aanneem as dit ’n bo-normale reënval seisoen sal wees, dat meer donderstorms kan voorkom,” het Olivier gesê.

Volgens Olivier het verlede jaar se voorspellings in September ook aangedui op ‘n bo-normale reënseisoen.

“Maar dit was heelwat later. Dit is natuurlik nie te sê dat dit hierdie jaar die geval sal wees nie. Die seisoene is heelwat anders van jaar tot jaar,” sê Olivier.

Maar voorspellings bly juis dit. Voorspellings. Baie ‘weerkenners’ hou maar die wolke dop. Glo in die perdesterte in die lug. Hou 10 Oktober dop, want na die datum kom die groot reëns mos.

Ander glo as die duisendpoot loop, moet jy maar weet die water gaan loop.

Gauteng het Maandagnag, 25 September deurgeloop deur ‘n erge storm en reën het mildelik in dele van die land geval. Intussen hou Tzaneeners asem op vir ons eerste somer donderstorm, soos net hy kan losbars hier in ons area.

Op 22 Oktober verlede jaar het stormsterk winde en reën skuins na middernag Tzaneen en omgewing getref. Skade was orals aangemeld uit ons omgewing.

In November het nog ‘n storm gesorg dat Tzaneen in die donker moes sit, en weer was grootskaalse skade aangemeld.

Wat kan Tzaneen verwag die reënval seisoen?

Die tyd sal leer.

Maar een ding is seker, wees eerder voorbereid. Hou maar die kerse byderhand. Herlaai kragopwekkers, en maak seker die gasbottels is vol.

Mens weet nooit met Tzaneen se weer nie!

Dink jy ons gaan ‘n bo-normale reënseisoen beleef? Het jy enige bygelowe waarin jy vas glo dat groot reën oppad is. Los gerus kommentaar of epos : bertus@herald.co.za

Lees ook:

Die GROOT reën kom ‘glo’ na more…

 

Exit mobile version