OPVOLG: Phillip in intensief na Panga aanval op Letaba Estates-seun vertel

Phillip du Randt is tans in die intensiewe sorg-eenheid van MediClinic Tzaneen opgeneem na die aanval vanoggend.

Phillip se seun, Dewald, het aan Letaba Herald vertel dat sy pa vanoggend om omstreeks 03:30 onraad vermoed het toe hy ‘n geraas buite hulle huis op die Letaba Estates landgoed gehoor het.

Lees: Tzaneen: Man op sitrusplaas aangeval

‘My pa kan nie baie onthou nie. Ons weet net hy het op die ou afgekom. Verder kan hy niks onthou nie,’ vertel Dewald.

Phillip is deur die verdagte toe glo met ‘n panga aangeval.

Die familie het onmiddellik die plaasbestuurder in kennis gestel, wat op sy beurt die ER24 ambulansdienste ontbied het.

‘Ons was bang my pa verloor te veel bloed. Ons het hom in die kar gelaai en na MediClinic Tzaneen gehaas,’ sê Dewald.

Hulle het die ambulansdiens halfpad gekry, waarna hulle hom na die hospitaal geneem het.

Phillip het ‘n operasie ondergaan en is tans in die intensiewe sorgeenheid.

‘My pa is nog glad nie stabiel nie,’ het Dewald aan Letaba Herald vertel.

Die SAPS was glad nie op die toneel nie, en is ook nog nie van die aanval in kennis gestel nie.

Letaba Herald het vroeër berig dat hy by ‘n petrol stasie aangeval is, nadat hy glo geld by ‘n OTM wou ontrek.

Die inligting is op sosiale media versprei.

Die provinsiale media woordvoerder, Lt Kol Ngeope was nie bewus van die aanval toe Letaba Herald navraag doen nie.

 

Exit mobile version