Spogskou se fokus is reg

Totsiens vlooimark, welkom Landbouskou!

Totsiens vlooimark, welkom Landbouskou! Dit is die oorwoë mening van die rekordgetal besoekers wat vanjaar se Skou bygewoon het.

Spogbeeste, pronkerige pluimvee, trotse perde met puik ruiters, uithaler bokke en ‘n legio ander diere was die kenmerk van vanjaar se skou.

Verlede week se Letaba Skou was ‘n reuse sukses gewees nadat die skou-komitee die afgelope paar jaar weer meer op landbou gefokus het.

2017 se skou sal onthou word vir juis dit, ‘n landbouskou. Voor ons by die landbou uitkom, moet ons eers vir die skou-komitee salueer dat hulle uiteindelik ‘n groot gedeelte van die vlooimark van die skou verwyder het. Die besluit om weg te doen met ‘n groot vlooimark, was ontwyfeld die aspek van die skou wat Tzaneen se inwoners die meeste geniet het.

In plaas van die horde vlooimark stalletjies onder by die rivier, het die SAPS vanjaar daar uitgestal en skougangers kon ook vir die eerste keer ‘paintball’ in die area langs die rivier geniet. Om terug te keer na die belangrikste, landbou het vanjaar geseëvier as die kern van die Letaba Skou.

Die Jeugskou het vir die eerste keer ooit deelnemers van Gauteng af ontvang, wat saam met Limpopo en Mpumalanga die skou uitdaging aangepak het. Daar was ook vier plaaslike perdry-klubs wat hul staal gewys het deur die loop van die skou, naamlik; Letaba Uithourit Klub, Tzaneen Equestrian Centre, Thundering Hooves Klub en Buckles and Boots Klub.

Om die landbou in ‘n neutedop te plaas, het verskeie pluimvee en lewendehawe kompetisies net soos altyd gesorg dat die stalle en hokke propvol diere was. Die kosstalletjies was uitstekend en ‘n heerlike atmosfeer het deurentyd geheers. So ook die vele kunstenaars wat opgetree, en het hulle die besoekers van die skou net soveel geniet, soos die publiek húlle optredes.

Die landbou atmosfeer het gesorg dat die Letaba Skou vir die eerste keer in ‘n lang ruk, bietjie meer weer soos die ou skoudae gevoel het.

Welgedaan!

Exit mobile version